Pretoria-treindiens roep halt weens kabeldiefstal

Die los kabels wat in die trein se pad hang (Foto: MetrorailGauteng via Twitter)

Metrorail-treindienste van Pretoria na Pienaarspoort het Vrydagoggend weens kabeldiefstal stilgestaan.

Dit volg net enkele dae nadat Metrorail-treindienste in Pretoria weer hervat het.

Pendelaars word aangeraai om vir eers alternatiewe vervoer te vind tot die skade herstel is.

Tony Games, die waarnemende woordvoerder van Metrorail Gauteng, sê die eerste leë passasierstrein wat die oggend van die Pretoria-stasie in die rigting van Pienaarspoort vertrek het, moes terugdraai weens los oorhoofse kabels wat in die trein se pad gehang het. Dit was uiteraard onmoontlik vir die trein om verby die kabels te beweeg.

“Metrorail se tegniese spanne werk onverpoos om die skade te assesseer en te herstel. Hulle poog om dit voor Vrydagmiddag se spitstyd te herstel,” sê Games. Metrorail se bestuur het pendelaars om verskoning gevra vir die ongerief.

Jackie Moshe, die waarnemende provinsiale bestuurder van Metrorail Gauteng, het gesê die bestuur is ontevrede en hartseer oor die kwaadwillige skade aan hul infrastruktuur. “Ons doen ʼn beroep op mense om teen dié soort misdrywe saam te staan,” sê Moshe.

Maroela Media het vroeër berig die Passasierspooragentskap (Prasa) het Woensdag beperkte dienste hervat nadat treindienste drie maande lank nie beskikbaar was nie weens die landwye algehele afsondering.

ʼn Beperkte diens word geleidelik landwyd deur Prasa ingestel met net vier beskikbare roetes, waaronder die Pretoria-Pienaarspoort-roete in Gauteng, die Kaapstad- en Retreat-stasie in die Wes-Kaap en die Oos-Londen- en Port Elizabeth-treindienste in die Oos-Kaap.

Metrorail het in ʼn verklaring vroeër die week gesê elke trein sou 486 pendelaars vervoer en elke aand skoongemaak en ontsmet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Kabeldiefstal moet as sabotasie hanteer word en gestraf word

Niklaas ·

As hierdie tipe misdaad bekamp moet word, moet die mense wat dit by die diewe aankoop vervolg word. Daar is blykbaar deurgans ‘n mark vir die kabels, so dus sal diewe permanent voortgaan hiermee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.