Pretoria-vloede: Man se liggaam in voertuig gevind  

(Foto: ER24)

Nooddienste het die naweek op verskeie noodsituasies gereageer ná voorvalle van oorstromings nadat swaar reën oor Pretoria uitgesak het.

Die liggaam van ʼn man is Sondag in sy voertuig in die Hennopsrivier in Clubview, Centurion, gevind.

“Dit is onbekend hoe die voertuig in die rivier beland het, maar twee verbygaande fietsryers het dit opgemerk en hulp ontbied met die vermoede dat die bestuurder steeds binne vasgekeer was,” het Ross Campbell, woordvoerder van ER24, gesê.

Polisieduikers, nood- en reddingswerkers en paramedici van ER24 was op die toneel en talle pogings is aangewend om by die voertuig in die kolkende water uit te kom.

“Teen net voor 13:00 het die duikers saam met GPG Rescue daarin geslaag om die liggaam van ‘n man uit die voertuig te verwyder. Paramedici van ER24 het die man op die toneel dood verklaar.”

Nog talle ander mense is in Centurion uit hul motors gered nadat dit in vloedwater vasgeval het.

Talle paaie en laagwaterbrûe in Centurion het oorstroom en volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is verskeie voertuie op laagwaterbrûe vasgekeer. In Irene het bome omgeval en is paaie beskadig.

Water stroom deur ‘n informele nedersetting in Mamelodi, Pretoria. (Foto: Tshwane-nooddienste)

In Montanapark en Doornpoort het huise oorstroom, maar daar is geen beserings of sterftes aangemeld nie. In Colbyn en Wonderboom-Suid het daar ook bome omgeval.

Verskeie reddingsoperasies is oor die naweek van stapel gestuur. In Boschkop is twee mense uit hul motor gered nadat dit in vloedwater beland het terwyl ʼn man uit ʼn boom gered is in Donkerhoek.

In Olympus is ʼn man uit sy motor gered en in ʼn kritieke maar stabiele toestand na die Unitas-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

In Mamelodi is sowat 800 mense geraak deur die swaar reën en oorstromings. Mense is na tydelike skuilings geneem terwyl talle mense van die dakke van hul huise gered is. In sommige gevalle het inwoners egter geweier dat reddingswerkers hulle help.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is reënval van tussen 100 mm en 160 mm in dele van Pretoria aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miskruier ·

Ek weet van n rivier (30 jaar laas gevloei)wat die plaaslike munisipaliteit, selfs na verskeie waarskuwings, geignoreer het. Die pad en die plakkers het nou verspoel.

Samuel ·

Dit gaan my verstand te bowe dat motoriste dit op laagwaterbruê en oorstroomde paaie waag ten spyte van waarskuwings van die owerhede se kant. Kon lewensverlies nie voorkom word as gehoor gegee is aan waarskuwings nie?

007 ·

Daar was geen lig of waarskuwings na 160mm reen in daai rivier nie. Dit kon met jou ook gebeur het.

Owlie ·

Dit is alles te danke aan die men’s wat krap waar God n punt gesit het – Die munisipaliteite wat niks doen aan hul omgewings en skoonmaak van storm water pype/dreinr en riviere nie – die regering wat mense vir verkiesings doeleindes in gearing het en daarmee plakkers kampe op onmenslike maniere gebou en gegroei het – sit ons regering net vir n maand in een van hierdie plakkers kampe sonder hul globale inkomstes, fancy motors, jobs, kos, drank, meubels, klere en sien hoe hulle sal krepeer

007 ·

Die betrokke brug is net hier onderkant ons huis. Daar is nie voldoende lig in die donker nie. Daar is groot bome wat oor die pad hang. As die rivier so vinnig afkom soos Saterdagnag gaan hy enige iemand omkant vang. Moenie kommen-taar lewer as jy nie weet wat het gebeur nie. Dit kon jy gewees het of jou kind of jou pa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.