Pretoria-vrou rasend oor vermiste mantelapie

Leah, die mantelapie (Foto: Verskaf)

’n Pretoriase diereliefhebber is rasend van bekommernis nadat haar mantelapie (capuchin monkey) op 1 Januarie vanjaar uit haar hok ontsnap en sedertdien skoonveld is.

Marlene Potgieter van Wonderboom in Pretoria bedryf ’n veilige hawe vir sowat 30 mantelapies nadat sy haar eerste apie ongeveer agt jaar gelede gekry het en sedertdien ’n liefde vir dié spesie ontwikkel het.

Potgieter het Woensdag aan Maroela Media gesê sy is baie bekommerd oor wat van haar geliefde mantelapie, Leah, geword het nadat sy op Nuwejaarsdag op ʼn manier uit haar hok gekom het. Leah is vyf jaar oud en was maar drie maande in Potgieter se sorg voordat sy spoorloos verdwyn het.

Potgieter sê hoewel mantelapies baie oulik lyk, kan Leah eintlik gevaarlik wees in die verkeerde hande. “Leah het ’n fyn gesiggie, is lig van kleur en lyk dalk soos ’n baba, maar is eintlik ’n volwasse aap en gevaarlik. Al lyk sy oulik en mak, byt sy.”

Potgieter verduidelik dat Leah met gedragsprobleme sukkel nadat sy, soos al die ander mantelapies waarvoor Potgieter sorg, van huis tot huis gegee is voordat sy eindelik haar tuiste by Potgieter gevind het.

“Ek rehabiliteer hulle mettertyd. Mense sien nie meer kans vir hulle nie aangesien hulle oulik is wanneer hulle klein is,” verduidelik Pienaar. Dit is egter ’n ander saak wanneer hierdie apies volwasse is.

Potgieter bied ’n veilige hawe vir mantelapies wat weggee word. By háár vind hulle ’n roetine en maats – ’n groep waarby hul later inpas. “Hulle is my passie. Ek is so lief vir diere en het nadat ek my eerste mantelapie gekry het, het ek agtergekom dat hulle eintlik soos mense is. Hulle is baie intelligent en sukkel nes ons met aanpassing en skeidingsangs. Ek bond met elke een en moet elkeen se vertroue wen.”

Leah was egter nog net ʼn kort ruk by Potgieter en het nog nie aangepas nie.

Pienaar het ʼn beroep op die publiek gedoen om op die uitkyk vir Leah te wees sodat sy veilig aan haar eienaar terugbesorg kan word. “Mense het nie ’n idee hoeveel werk en aandag so ’n apie verg nie. Iemand kan haar nie bloot net hou nie.”

Pienaar se grootste vrees is dat Leah in ’n klein hokkie moet bly of dat iemand haar misbruik en mishandel. “Daar gaan lelike goed deur ’n mens se gedagtes,” sê sy.

’n Beloning van R8 000 is uitgeloof aan enigiemand wat kan help om Leah veilig terug te besorg. Inligting kan direk by Potgieter by 082 496 3638 aangemeld word of Leah kan selfs by die naaste polisiestasie afgegee word.

Al is dit hoe erg vir Potgieter om te dink dat iemand vir Leah aanhou, vra sy dat so ’n nuwe eienaar haar moet kontak. “Ek wil net berusting hê dat sy goed versorg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Ek hoop dis aanvaarbaar, volgens die huidige standaarde, om te se dat ek regtig hoop jy kry jou aap. Deesdae word ek permanent geblok a.g.v die gebruik van sleutelwoorde.

jean ·

Tragies dat sulke “halfmensies” in hokke gehou word en nie in die natuur gelaat word nie….nou word die tande verwyder en daar word klere aangestrek ens. ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.