Pretorianers spring in om skool vir gestremdes te help

Nic Arnold, Karen Joubert, Manie Entres en Peter Muller help Sondag om die watertenks na die skool te vervoer. Foto: Verskaf

Nic Arnold, Karen Joubert, Manie Entres en Peter Muller help Sondag om die watertenks na die skool te vervoer. Foto: Verskaf

Goedhartige Pretorianers het dié naweek moue opgerol om ʼn plaaslike skool vir gestremdes wat deur ʼn moontlike waterkrisis in die gesig gestaar word, te help.

Manie Entres, ondervoorsitter van die Kameeldrift-Leeufontein gemeenskapspolisiëringforum (GPF) het aan Maroela Media gesê dat die Via Nova Skool in East Lynne hom Vrydag gekontak het om hulp te versoek. “Die Tshwane-metro se departement van water en sanitasie het vandeesweek ʼn kennisgewing uitgestuur waarin hulle gesê het dat hulle van Dinsdagoggend vir 48 uur instandhoudingswerk aan die watertoevoernetwerk sal doen wat tot wateronderbrekings sal lei,” het Entres gesê.

“Via Nova het byna 500 leerders en 100 onderwysers. Hulle het ook ʼn koshuis wat 105 leerders huisves. Om 48 uur sonder water te wees, sal vir hulle ʼn reuse-krisis wees,” het hy gesê. Volgens Entres word nie net Via Nova geraak nie, maar ook die Jakaranda Kinderhuis en die Sonitus Skool vir Gehoorgestremdes wat ook in die omgewing is.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Al hierdie plekke kan net eenvoudig nie vir 48 uur sonder enige water klaarkom nie,” het Entres gesê. “Die munisipaliteit kon nie bevestig of die water vir ʼn volle 48 uur afgesny sal wees of slegs met tye nie, maar die realiteit is dat ons nie kan wag tot daar ʼn krisis is voor ons iets begin doen nie.”

Die GPF het dadelik ingespring deur twee watertenks aan te koop en dit by brandkrane vol te maak om vanmiddag by die Via Nova Skool afgelewer te word. Talle mense het ook op hul noodroep gereageer deur bottels water te skenk wat saam met die tenks afgelewer sal word. “Al die skole in die omgewing sal dan in hierdie twee dae water uit hierdie tenks kan kry. Ons sal deurentyd ʼn ogie op die situasie hou en die tenks weer vol water gaan maak wanneer dit leegloop,” het Entres gesê.

Volgens die Tshwane-metro sal daar wateronderbrekings in talle woonbuurte voorkom, onder meer La Montagne, Wilgers, Murrayfield, Garsfontein, Silverton, Villiera, Rietfontein, Val-de-Grace, Kilner Park, Meyerspark, Lynnwood Glen, Lynnwood Park, Faerie Glen, Queenswood, Brummeria, Constantia Park, Waterkloof Glen, Moreleta Park, Menlyn en Alphenpark.

Vir ʼn volledige lys van buurte wat deur die wateronderbrekings geraak word, besoek die munisipaliteit se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KarooKlong ·

Snaaks dat net ‘n sekere tipe mens bereid is om te help in sulke noodgevalle.
Lofsange vir julle helpers.

Helpmekaar ·

Soos by die kerkbazaar, altyd dieselfde mense wat bereid is om te help. Hulpvaardige mense is skaars maar baie waardevol. Dalk kan Maroela help om aksies te reel of publiseer waar vrywilligers daarvan kan lees en betrokke kan raak.

Pierre ·

Ek vermoed dat dieseifde krisis ook Nuwe Hoop Skool in Alphenpark in die oog gaan staar. Die ooglopende probleem hier is n gesondheids risiko. Hoe maak groot maatskappye en skole in die omgewing om die probleem die hoof te bied veral mbt tot sanitasie. Is dit regtig moontlik om toilet geriewe vir 48 uur te sluit. Wie het in elk geval die kapasiteit om genoeg water te berg vir so lang tydperk.

Johannes Meintjes ·

Wel gedaan aan die paar lede van die GPF in Kameeldrif (Oos). Hierdie GPF benodig ook meer medewerkers vanuit inwonersgeledere om gemeenskapsinisiatiewe en misdaad uitdaagings volhardend te kan bemeester. Opgradering van stede se infrastruktuur soos water pype moet te begrype aandag geniet. Dit sou help as die Metro duideliker kon wees rondom die wateronderbrekingkennisgewing. Is dit enkele onderbrekings oor ‘n periode van 48 uur of ‘n 48 uur onderbreking?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.