Pretoriase dokter vermoor, man beseer in aanval

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die gemeenskap van Erasmusrand in die ooste van Pretoria is geruk ná ’n aanval op ’n bekende egpaar.

Dr. Erna Britz-van Zyl, ’n bekende dokter in die stad, is dood toe sy en haar man, Dries van Zyl, oor die naweek in hul huis oorval en aangerand is.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die egpaar se seun het hulle die naweek verskeie kere gebel maar geen antwoord gekry nie. Hy het onraad vermoed en is Saterdag omstreeks 12:30 na sy ouerhuis om ondersoek in te stel.

Die seun het sy ouers vasgebind aangetref. Paramedici is na die huis ontbied en die 73-jarige Erna is dood verklaar. Dries (75) het beserings tydens die aanval opgedoen en is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Die oorsaak van Erna se dood is in dié stadium nog nie bekend nie.

Daar word vermoed dat die egpaar reeds Vrydagmiddag oorval is. Hulle Toyota Corolla, selfone, gelisensieerde vuurwapen en televisiestelle word vermis.

Lizelle Hendriks, ’n inwoner van Erasmusrand, sê die aanval het die gemeenskap geruk. Volgens haar was die egpaar vriendelike mense. “Hulle het elke dag gaan stap en was bekende gesigte in die gemeenskap.”

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval op die Van Zyl-egpaar nie.

’n Saak van moord en huisbraak word ondersoek.

Masondo het ’n beroep op die publiek gedoen om enige inligting rakende die aanval op die Van Zyl-egpaar by hul naaste polisiestasie of die misdaadstopnommer by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariaan ·

Agge nee..NOG n moord…hoe op dees aarde moet mens positief bly in so n wettelose land van moord en korrupsie…ons volk se dae is getel!

Miskruier ·

Draai terug na God, sou omstandighede nie verander, ons weet tog satan is hier besig, het mens dan die moed om voort te gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.