Pretoriase kleutermeisie (4) sterf ná fratsongeluk

Klein Abigail (Foto: Facebook)

ʼn Pretoriase gesin is in rou gedompel nadat ʼn fratsongeluk daartoe gelei het dat ʼn vierjarige meisie van dié stad haar lewe vandeesweek verloor het.

Die masjiene wat die jong Abigail van Niekerk in die Steve Biko- Akademiese hospitaal aan die lewe gehou het, is Donderdagmiddag afgeskakel.

Tania Otto, ʼn familievriend wat tydelik as woordvoerder optree, sê Vrydag aan Maroela Media Lizelle, die vierjarige se ma, is “totaal gebroke” oor die dood van haar “liefdevolle” dogtertjie.

Volgens Otto het die fratsongeluk oor die naweek by ʼn vriend van Lizelle se huis in Pretoria gebeur. Sy sê Lizelle en ʼn groep vriende het die verjaarsdag van ʼn vriendin gevier en almal was in ʼn jolige luim oomblikke voordat die ongeluk gebeur het.

Otto sê Abigail het na bewering op ʼn toonbank wat in die gesin se tuin staan geklim en daarop gespeel voordat die toonbank inmekaar getuimel het. Die bostuk van die toonbank het op Abigail se kop geval en haar skedel van oor tot oor gekraak.

“Abigail het die een oomblik net rustig staan en speel, toe sak die toonbank skielik in mekaar. Sy is nie eens ʼn wilde kind nie, sy het soos ʼn feetjie oral heen getrippel. Lizelle was aanvanklik nie seker hoe ernstig die beserings is nie, sy wou nog badkamer toe gaan en van die vriende het Dettol gaan haal om die wond skoon te maak,” sê sy.

Klein Abigail (Foto: Facebook)

Abigail het glo kort ná die voorval ophou asemhaal waarna een van Lizelle se vriende kardiopulmonêre resussitasie op haar uitgevoer het. Lizelle het daarna met haar na die Steve Biko-hospitaal gejaag.

Volgens Otto is Abigail eers Dinsdagmiddag aan ventilators gekoppel nadat sy weer ophou asemhaal het. Sy sê die gesin het daarna die nuus ontvang dat Abigail breindood was. Lizelle het glo Donderdagmiddag magtiging gegee dat die masjien wat haar aan die lewe gehou het, afgeskakel word.

“Ons almal is geruk deur die voorval,” sê Otto. “Ons is absoluut stukkend; veral Lizelle. Abigail was die liefdevolste kind. Ons het haar altyd vasgehou en met haar gespeel, sy het die sagste stemmetjie gehad. Sy was werklik die dogtertjie wat almal graag wil hê. Daar is geen woorde nie.”

Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

Lizelle en klein Abigail (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

White Rhino ·

O my genade – dis te vreeslik vir woorde.
Sterkte aan almal.

ES ·

Baie sterkte aan die familie – dis baie hartseer, sy was so mooi dogtertjie.

GM ·

Dit is vreeslik hartseer. Die lewe is so onregverdig. Mense kry kinders wat nie kleingoed wil hê nie, en gooi hul in asblikke. Iewers anders weer, is ‘n mamma en/of pappa wat so graag hul kind nog een keer wou vashou, maar nie die geleentheid kry nie. Rus in vrede kleinding. Sterkte aan die wat agterbly.

Liefdevolle sterkte ·

Liewe Lizelle , vriende en familie, baie sterkte, Lizelle, jy is in ons gebede en trane, in elke fase wat vir jou voorlê, werk net deur elkeen en klou vas aan jou geloof, dit is op die einde al wat jou gaan staande hou. Maak jul oortjies toe vir kritiek, die groep is altyd die grootste en kan die seer baie groter maak.

SNEL ·

Genade, dis vreeslik en so skielik. Een oomblik speel sy nog en die volgende oomblik gebeur so vreeslike ding. My hart skeur vir die ouers. Baie sterkte, mag die Here julle dra en krag gee deur hierdie moeilike tyd.

Sjoe ·

Sjoe, Neil, dis bitsig. Snel probeer troos, en die beste wat hy/sy kan aanbied is die hoop dat die Here hierdie gesin sal ondersteun. Want niks wat n mens kan sê of doen maak die pyn minder nie.

VRIENDIN ·

My liefste Lizelle,

My hart is seer saam met jou oor ons engel kind.
My vriendin, daar is geen woorde wat enig sins gaan sin maak op die stadium nie. Onthou net jy stap NOOIT alleen NIE! Baie Lief vir jou en ons Engel Abby!!

Hartseer ·

Oh my! Lizelle, ons innige simpatie en meegevoel met julle BAIE groot verlies. Ek lees nog die storie en met die afscroll herken ek jou op die foto en my hart breek in stukkies! Sterkte liewe mens!

Colleen ·

Mag die Liewe Heer hierdie familie troos in hierdie donker tyd. Voorspoed. Dit is baie erg.

Elvira ·

Sterkte aan almal. Hoop julle kry vertroosting. So jammer dat dit gebeur het.

Martie ·

Sjoe jammer vir almal wat betrokke is, dit is erg om iemand te verloor en om ‘n kind aan die dood af te staan is seker die ergste seer!

SoosDitIs ·

Sy is so ‘n pragtige klein mensie! Sterkte aan die familie.

Dev ·

Sy was inderdaad ‘n pragtige feetjie! Ek kan myself nie indink nie!

Baie sterkte aan die familie!

Gesiggie ·

Geen woorde sal jul seer beter kan maak…. so n Liefdevolle Engel kind rus nou sag by Jesus.. ek is so jammer vir jul verlies en weet dat jul hart baie seer is, n mens sal nooit die weg van die Lewe verstaan, want n mens wil weet hoekom? een oomblik het sy nog lekker baljaar saam haar maats… en toe gebeur dit. Aan Lizelle en almal wat Abigail so baie life gehad het, mag Jesus jul vertroos dit is n baie swaar eina wat ek vir geen een gun.

Rikag ·

So bitter jammer dit het gebeur dra julle in my gebede sterkte vir julle?

Pieter ·

Hoe verskriklik tragies. Ek het kleinkinders van ongeveer daardie ouderdom en kan nie eens dink hoe verwerk mens so hartseer nie. Ons kan net bid vir krag vir haar ouers. Baie sterkte vir julle!

sandy ·

Dit is so hartverskeurend en sy is die pragtigste ou dingetjie, so mooi en fyn. My simpatie aan die familie, mag julle berusting vind deur God.

Christa ·

RIV kkein Abigail. Sterkte aan haar mamma, familie en vriende. Ek bid dat die Here julle sal vertroos.

Jean ·

Ag liewe hemel..my hart is so seer vir julle..?.Mag die Here jul dra deur die moeilikste van tye..

Charmaine ·

Lizelle hier waar ek nou besig is met n kursus ,huil ek saam met jou.O my hart is sommer baie seer oor jou prinsessie.Mag julle vertroosting vind in ons liewe Heer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.