Prime Circle-hoofsanger groet groep ná 23 jaar

Prime Circle sal eersdaags ‘n nuwe voorsanger hê. (Foto: Facebook/Prime Circle)

Ross Learmouth, hoofsanger van die Suid-Afrikaanse rockgroep Prime Circle, het Dinsdag aangekondig dat ʼn nuwe sanger sy plek sal inneem nadat hy besluit het om ná 23 jaar paadjies met die groep te skei.

Die rasperstemsanger, wat vroeër vanjaar sy debuut-solo-album uitgereik het, het in ʼn amptelike verklaring verduidelik dat hy en die groep “kreatiewe verskille” ervaar, en dat hy gevolglik sy aandag op sy sololoopbaan wil vestig.

“Dit was ʼn ongelooflike tyd saam met Prime Circle en ek is baie dankbaar vir die herinneringe wat ons saam geskep het. Op hierdie tydstip in my lewe is dit egter tyd dat ek aanbeweeg.”

Volgens Learmouth is daar pogings aangewend om terselfdertyd sy rolle as Prime Circle-voorsanger en solokunstenaar te vervul, “maar ʼn ander besluit is gemaak, wat ek moet respekteer”.

Hy beskryf die besluit as “die moeilikste een wat ek nog gemaak het” en het die oorblywende lede, bestaande uit Dirk Bisschoff, Marco Gomes, Neil Breytenbach and Dale Schnettler, sukses toegewens.

“Dit het nog altyd oor die aanhangers en die musiek gegaan, en dit is nou die tyd vir my om myself 100% in my nuwe musiek en rigting te verdiep.”

Gomes, Prime Circle-basspeler en stigterslid, het in die groep se eie verklaring gesê hul “groet Learmouth met ʼn swaar hart”.

Ross Learmouth gaan nou op sy sololoopbaan fokus. (Foto: Facebook/Ross Learmouth)

“Ons musiek verbind ons aanhangers wêreldwyd en strek verder as net ons vyf. Ons sien daarna uit om binnekort nuwe ervarings te deel, ons nuwe gesoute voorsanger én nuwe musiek aan ons aanhangers bekend te stel,” het Gomes gesê.

Dit is nog nie bekend wie Learmouth as hoofsanger gaan vervang nie.

Prime Circle is in 2000 deur Gomes gestig en het plaaslike en internasionale sukses geniet met hul treffers soos “Hello” en “She always gets what she wants”.

Benewens hul verskeie Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (South African Music Awards) het die groep ook al die verhoog met internasionale kunstenaars soos Annie Lennox en rockgroepe soos Metallica, Queen, Linkin Park en die Goo Goo Dolls gedeel.

“Deur hierdie reis het die groep nie net ons identiteite gevorm nie, maar ook die basis van ons lewens en gesinne vir die afgelope 23 jaar – ʼn verbintenis wat ons nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie,” het kitaarspeler Bisschoff bygevoeg.

“Ons aanhangers se begrip en volgehoue ​​ondersteuning sal deurslaggewend wees soos wat Prime Circle hierdie volgende hoofstuk begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zara ·

Stem saam @Michele. Fantastiese groep en hoofsanger. Is rerig jammer!

Bite Me ·

Luister bietjie na sy solo liedjie “Innocence”… hy sal dit definitief maak op sy eie. Hy het ‘n ongelooflike stem.

Trots Afrikaans1 ·

Die beste SA rock band ooit! Sterkte Ross met die pad vorentoe, ek weet jy gaan ‘n groot sukses daarvan maak.

Wicus ·

@Bite Me, Innocence is ‘n ouerige Prime Circle liedjie en nie deel van sy nuwe solo album nie, maar sy stem is wel wat Prime Circle gemaak het, so glo hy sal goed doen. Sy nuwe goed is wel bietjie meer “pop” as rock, so dink dit is waar hulle dalk “creative differences” gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.