Prinses Charlene bly eers in SA weens infeksie

Prinses Charlene passievol oor die bewaring van wilde diere in Suid-Afrika en lê die bekamping van renosterstropery haar na aan die hart (Foto: Princess Christian Sperka/Charlene of Monaco Foundation/Twitter)

Prinses Charlene van Monaco gaan vir ʼn ruk langer in Suid-Afrika moet bly nadat sy tydens haar besoek aan ʼn bewaringsentrum vir renosters ʼn infeksie opgedoen het. Haar besoek aan die sentrum het Suid-Afrikaners die afgelope week aan die gons gehad. Sy het dié besoek gedoen om haar ondersteuning vir die bewaring van renosters te wys.

Die paleis in Monaco het in ʼn verklaring bevestig Charlene (43), ʼn voormalige Suid-Afrikaanse swemkampioen en getroud met prins Albert van Monaco, het tydens haar besoek aan Suid-Afrika ʼn oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen. Sy kan dus nie op die oomblik terugkeer huis toe  nie.

“Weens die infeksie kan sy nie saam met haar familie die Monaco E-Prix Formule Een-wedren in Monte Carlo bywoon nie,” lui die verklaring. “Prinses Charlene stuur haar beste wense aan die organiseerder van die wedren, sowel as aan die bestuurders en spanne wat by hierdie groot geleentheid betrokke is.”

Tydens Charlene se besoek aan die renostersentrum het sy foto’s van haarself by renosters wat onthoring is, op sosiale media gedeel. Sy het tydens haar besoek eerstehands beleef hoe veldwagters renosters verdoof en onthoring.

“Renosterstropers het al byna 10 000 Afrika-renosters van ons pragtige aarde beroof,” het Charlene in ʼn verklaring, uitgereik deur die Princess Charlene of Monaco Foundation, gesê. “As ons hierdie ongelooflike diere van uitwissing wil red, sal ons iets moet doen. Ons kan dit nie meer bekostig om nog renosters te verloor nie.”

Prinses Charlene het tydens haar besoek eerstehands beleef hoe veldwagters renosters verdoof en onthoring (Foto: Princess Charlene of Monaco Foundation, Twitter)

Charlene se besoek aan die sentrum vorm deel van haar wêreldwye natuurbewaringsinisiatief, wat veral die bewaring van renosters insluit. Volgens die verklaring is Charlene passievol oor die bewaring van wilde diere in Suid-Afrika en lê die bekamping van renosterstropery haar na aan die hart.

Charlene besoek ook gereeld die Rhino Orphanage in Limpopo wanneer sy haar geboorteland besoek. Haar laaste besoek was in 2018.

Maroela Media het vroeër berig The Rhino Orphanage is naby Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo geleë, en is die tuiste van verskeie renosterwesies. Die doel van die sentrum is om renosterwesies te red, rehabiliteer en dan weer vry te laat. Arrie van Deventer (67) het in 2012 die sentrum gestig ná hy in 2011 gevra is om te help met ʼn stroopvoorval.

Van Deventer vertel hulle het Charlene se besoek geniet.

“Sy is ʼn wonderlike mens. Jy kan sien sy het groot deernis vir diere en ʼn groot passie vir die renosters,” het Van Deventer Dinsdag aan Maroela Media gesê.

*Die berig is sedert publikasie gewysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Dis wonderlik dat daar nou iets gedoen word om renoster stropings te verhoed. Met die verwydering van die horing is daar mos geen verder doel om renosters te stroop nie. Tensy China nou weer die velle ook wil gebruik vir een of ander medisinale mutie. Hoop hulle doen dit met al die renosters wat nog oor is in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.