Privaat sektor se betrokkenheid by entstof verwelkom

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Solidariteit het aangekondig dat hy vir Covid-19-entstof sal betaal vir 10 000 van sy lede, wat in die gesondheidsektor werk.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Sondag gesê die keuse berus egter by elke gesondheidswerker of hulle die inenting wil kry of nie. “Ons glo nie aan verpligte inentings nie, maar ons glo daaraan dat dit moet beskikbaar wees vir diegene wat dit kies.”

Solidariteit meen bilaterale gesprekke met maatskappye moet die grootste prioriteit geniet en gesondheidswerkers kan nie wag vir die stadiger Covax-proses nie.

Maroela Media het vroeër berig dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het Sondag gesê gesondheidswerkers sal prioriteit geniet en hulle sal eerste ingeënt word teen die virus. Die grootste deel van die land sal egter eers teen die einde van 2021 die entstof kan ontvang.

“Solidariteit verwelkom die samewerking met die privaat sektor. Hulle mag egter nie net finansierders wees nie, maar moet betrek word by die totale waardeketting, insluitend aankope en verspreiding,” het Hermann bygevoeg. “Die staat kan nie die beheer toepas terwyl die privaat sektor slegs die finansiering verskaf nie. Die staat het ʼn swak bestuursrekord.”

Mkhize het aangedui dat die inentings in verskeie fases sal plaasvind waar personeellede in die voorste linies (sowat 1,25 miljoen persone) tydens die eerste fase die entstof sal ontvang; noodsaaklike werkers en diegene wat met bejaardes werk of self komorbiditeite het (sowat 8 miljoen persone) sal in die tweede fase ingeënt word; en in die derde fase sal die entstof aan die res van die land (minstens ʼn verdere 22,5 miljoen persone) beskikbaar gemaak word.

Solidariteit is bekommerd dat die fasebenadering weereens swak bestuur gaan word wat steeds groot druk op gesondheidswerkers sal plaas. “Die privaat sektor moet ook in staat gestel word om in alle fases betrokke te wees,” het Hermann bygevoeg.

Volgens hom is gesondheidswerkers die hedendaagse helde van Suid-Afrika. “Hulle werk ongelooflike ure onder moeilike omstandighede en is buite verhouding aan die virus blootgestel. Hulle moet dus buitengewone ondersteuning kry. Een van die metodes van ondersteuning is ʼn dringende ingryping om entstowwe aan dié groep beskikbaar te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.