Privaat speurder soek na Welkom-bejaarde

Karl Reich van Welkom word nou al twee weke lank vermis. Foto: Facebook

Familielede van Karl Reich, die vermiste 82-jarige man van Welkom in die Noord-Vrystaat, het ʼn privaat speurder aangestel om hulle in hul soektog te help.

Johan Ferreira, Reich se skoonseun, het Maandag aan Maroela Media gesê dis nou al 14 dae vandat sy skoonpa laas gesien is en steeds lyk dit nie asof enige vordering gemaak word om hom op te spoor nie.

“Ek is vanoggend vir die eerste keer sedert die 24ste September terug by die werk,” het Ferreira gesê, wat twee weke gelede saam met sy vrou, Reich se dogter, Belinda, van hul tuisdorp, Mokopane in Limpopo, Welkom toe is om na Reich te soek.

Hulle sou na verwagting Dinsdag terugkeer Vrystaat toe nadat hulle ʼn privaat speurder aangestel het om hulle in hul soektog te help.

Die Ferreiras het sedert Reich se verdwyning ʼn hofbevel gekry wat Absa gedwing het om inligting bekend te maak wat aangedui het dat die bejaarde se kredietkaart op 25 September, die dag nadat hy vermis geraak het, onsuksesvol vir drie transaksies in Johannesburg gebruik is.

Beeldmateriaal van die veiligheidskameras by die vulstasie op die hoek van Volks- en Tempestweg in Jim Fouchépark, naby Reich se huis, het gewys hoe mense daar ry met sy wit Kia Cerato en goudkleurige Honda Civic.

Die beeldmateriaal van kameras by die tolhekke tussen Kroonstad en Johannesburg het egter niks opgelewer nie.

Reich se huisalarm het die aand van sy verdwyning afgegaan, maar Reich het die veiligheidsmaatskappy verseker niks skort nie. Die alarm is egter sowat ʼn uur later weer geaktiveer. Later die aand het bure ondersoek ingestel toe hulle sien sy motorhek staan oop en ligte brand.

Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Welkom-polisiekantoor by 057 391 6011 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sophia ·

Ek dink sekuriteitsmaatskappye moet nie net sommer goedsmoeds aanvaar dat as ‘n persoon geskakel word en hy sê daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek sou dink dat hulle weer ‘n paar minute later moet terugskakel om wel seker te maak. Of eintlik iemand uitstuur om te gaan vasstel of alles in orde is!

Theresa ·

Absoluut!!! Indien hul nie die oom se stem ken nie, kon enige een sê als is reg.
Of hul het hom rewolwer teen die kop of wat ookal gehad om so te sê.
Na die 2e keer moes hul gejaag het om te gaan ondersoek instel.
Die kameras wys mos iemand ry met sy motors. Die bank het bevestig dat onsuksesvolle transaksies gepoog was.
Hoop ALMAL wat moontlik kan, soek na die oom. Baie sterkte!

Andriesa ·

Ons moet elke keer ‘n wagwoord verskaf wanneer hul ons bel. (HAPBS)

Gesiggie ·

Ons Gebede gaan uit na jul as familie, ek hoop van harte dat die privaat speuder hom sal vind, en ons Bid dat hy veilig is…. alle sterkte aan jul. Hoop om goeie nuus te kry.

Mickey ·

Aitoggie oom, ek hoop jou storie het n goeie einde. Sterkte aan almal. Sic sic land van ons!!

Blompot ·

Hierdie oom is dag en nag in my gedagtes. Ek ken hom van geen kant af nie maar my hart pyn asof ek hom ken. Ek probeer myself nie in dink waardeur die Oom se familie moet gaan nie. My Pa het vroee dimentia gehad en een dag weg geloop, dit was erg genoeg om my mal te maak van bekommernis. 2 Weke is baie lank, ek bid regtig vir n wonderwerk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.