Privaatskoolgroep ontken segregasie

Curro Roodeplaat. Foto: Curro.co.za

Curro Roodeplaat. Foto: Curro.co.za

Die Curro-privaatskoolgroep het Donderdag beweringe van rassesegregasie ontken en gesê hul leerlinge woon geïntegreerde klaskamers by.

Dit volg nadat Curro Roodeplaat in Pretoria daarvan beskuldig is dat klasse aan leerlinge toegeken word op grond van hul ras.

“Ons wil al ons belanghebbendes verseker dat Curro se leerlinge in al die verskillende grade wel geïntegreer word,” het dr. Chris van der Merwe, Curro se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

“Dit word gedoen op ʼn wyse wat ʼn veilige leeromgewing bevorder, waarin leerders kan floreer. Die beginsel geld vir alle Curro-skole.”

Hy het gesê Curro het nagenoeg 36 000 leerlinge in hul 42 skole en dat 63% van die leerlinge swart is.

“Dit ondersteun en is ʼn weerspieëling van Curro se verbintenis om skole te bou wat integrasie onder leerlinge te verseker. Ons filosofie was nog altyd, en is steeds, om toeganklike onderwys aan Suid-Afrikaners van alle agtergronde te skep. Ons streef daarna om ʼn waardestelsel te bevorder waar ʼn kind se vriendelikheid, positiewe dissipline, Christelike etos en waardes en kreatiewe denke bevorder word,” het hy bygevoeg.

EWN het Donderdag berig byna 30 ouers by die skool het na bewering ʼn petisie onderteken om ʼn verduideliking te eis van die Curro Roodeplaat Privaatskool. Die ouers dring daarop aan dat die skool in ooreenstemming met die land se Grondwet optree.

André Pollard, streeksbestuurder van Curro Holdings, het ontken dat die skool leerlinge skei op grond van hul ras. “Dit is nie omdat ons die wittes wil skei nie, dit gaan oor vriendskappe. Kinders kan vriende maak met kinders van hul kultuur,” het hy aan die uitsaaier gesê.

Ouers wou glo weet hoekom sommige klasse net uit swart kinders bestaan, terwyl die wit leerlinge bymekaar gehou word.

Pollard het gesê die aantal wit leerlinge by die skool was baie min en daarom probeer die skool om hulle saam te plaas.

“Sodra daar 12 of meer wit leerlinge is, word hulle verdeel en gelykop in ander klasse geplaas,” het Pollard verduidelik.

EWN het Vrydag berig die Gautengse departement van onderwys gaan beamptes na die skool stuur om die aantygings te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jax ·

My kind was in een van die Curro-skole. Daar was verseker baie rasse en nasionaliteite in die skool en ook in my kind se klaskamer. Dit was baie goed om te sien hoe Curro almal behandel het as leerders en nie as ras en nasionaliteit! Dalk tyd dat die res van ons mooi land ook wakker word!

Takkie Takuuza ·

Het jy nou klaar ge-oordeel ou Grunter, of gaan jy nog bietjie “grunt”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.