Privaatspeurder help met vermoorde Pta-ma se ondersoek

Marlien Erasmus. Foto: Verskaf

Marlien Erasmus. Foto: Verskaf

ʼn Privaatspeurder wat onder meer gehelp het om die veelbesproke Sheldean Human-moordsaak te ondersoek, se hulp is ingewin om die moordenaars van ʼn Pretoriase ma, Marlien Erasmus, aan die pen laat ry.

Erasmus (20) se liggaam is op 16 April deur ʼn verbyganger in ʼn veld by Danville, in die weste van Pretoria, aangetref. Haar liggaam was in ʼn kombers toegedraai en is op haar vierjarige dogtertjie se verjaardag gevind.

Twee verdagtes is kort na haar moord aangekeer, maar gou weer op borgtog vrygelaat vir verdere ondersoek.

Erasmus se familie was onsteld om te verneem dat die verdagtes so vinnig vrygelaat is en het sowat ʼn week gelede Henry D’Almeida, ’n privaatspeurder van D’Almeida Investigations, se hulp ingeroep met die hoop dat geregtigheid spoedig sal geskied en hulle antwoorde oor haar moord kan kry.

D’Almeida het Woensdag aan Maroela Media gesê hy en die ondersoekbeampte werk nou saam en is besig om leidrade op te volg. “Die saak is in ʼn sensitiewe stadium en te veel inligting daaroor kan die ondersoek belemmer,” het hy gesê. “Daar het getuies na vore gekom wie se verklarings ons afneem en ons werk 24uur per dag aan die saak.”

Erasmus het in die Pretoria-omgewing grootgeword en sou in Desember haar 21ste verjaardag gevier het. Sy het twee dogtertjies wat onderskeidelik vier en vyf jaar oud is. Sy het voor haar dood van werk verwissel en het ʼn liefde vir dans en fotografie gehad.

D’Almeida was onder meer betrokke by die ondersoek ná die verdwyning en moord op die sewejarige Human in 2007. Human het op 18 Februarie 2007 vermis geraak nadat sy en ʼn maatjie saam met die moordenaar, Andrew Jordaan, van ʼn park in die omgewing teruggekeer het na ʼn kommune in Pretoria Tuine. Human se lykie is sowat twee weke later in ʼn stormwaterdrein tussen die varsproduktemark en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) gevind. Jordaan het haar lyk aan die polisie uitgewys. Jordaan is in 2008 lewenslank tronk toe gestuur vir die moord Human en is in Februarie 2012 in die Leeuwkop gevangenis vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

My innige simpatie aan haar familie. Ek hoop hulle vang die sondebok gou, sluit hom toe en gooi die sleutel weg!! Dis al manier hoe ons van al hierdie barbare ontslae gaan raak!!!

Annoniem ·

Dit is seker Jordaan wat in gevangenis oorlede is, nie Human nie, sy is dan vermoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.