Privaatvervolging staan slagoffer van ‘babasmous’ by

Sonia Leithgöb (Foto: Skermskoot uit AfriForum-video)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Sonia Leithgöb by in die staat se saak teen Letitia van den Berg op klagtes van bedrog. Leithgöb het die eenheid genader nadat sy strafregtelike klagtes teen Van den Berg gelê het omdat sy na bewering as ’n privaat maatskaplike werker ’n wanvoorstelling aan Leithgöb en haar man gemaak het rakende die aanneming van ’n baba.

Leithgöb het die eenheid genader omdat sy bekommerd was oor ’n gebrek aan kommunikasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hierdie saak.

Die eenheid het verseker dat die dossier volledig is deur die SAPD te voorsien van bewyse van kommunikasie tussen die klaer en die beskuldigde, fakture deur die beskuldigde uitgereik, asook foto’s van die baba wat die beskuldigde aan Leithgöb gestuur het.

Leithgöb het in Mei 2022 klagtes teen Van den Berg gelê nadat dié voormalige maatskaplike werker haar belowe het dat sy hulle kan help om ’n baba aan te neem. Van den Berg het foto’s van die beloofde babadogtertjie aan Leithgöb en haar gesin gestuur. Sy het egter ook dieselfde foto’s aan verskeie ander paartjies gestuur. Een van hierdie paartjies, Shannon en Chris Staniforth, het uiteindelik die baba aangeneem. Die beskuldigde het egter vereis dat beide paartjies gelde aan haar betaal vir sogenaamde professionele fooie of “mediese noodgevalle” met betrekking tot die kind.

Nadat sy die verwagting by die Leithgöb-gesin geskep het, insluitend Leithgöb se dogtertjie, in daardie stadium vyf jaar oud en wat opgewonde op haar nuwe sussie gewag het, dat hulle die babatjie sal kan aanneem, het Van den Berg hulle egter in kennis gestel dat die biologiese ma van plan verander het en nie meer die kind wou laat aanneem nie. Dít terwyl die baba in werklikheid deur die Staniforth-gesin aangeneem is.

“Die staat het verlede week versoek dat die saak tot 3 Maart 2023 uitgestel word en ons hoop dit is om verdere klagtes van mensehandel tot die klagstaat te voeg,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Dit blyk dat die beskuldigde foto’s van kinders aan verskeie paartjies gestuur het, asook onder voorwendsels gelde van verskeie mense geëis het. Die eenheid is daarom van mening dat Van den Berg se optrede moontlik ook die misdaad van mensehandel daarstel. Die skade wat deur die optrede aan gesinne aangerig word wat graag kinders wil aanneem, is enorm en ons wil die klaagster in hierdie saak bystaan om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Leithgöb voeg by hulle voel dat die beskuldigde bedrieglik teenoor hulle opgetree het deur vir hulle ’n baba te belowe. “Alhoewel hierdie saak al ’n lang pad kom, is ons dankbaar dat Letitia van den Berg uiteindelik haarself in die hof gaan moet verdedig. Sy het ons om die bos gelei deur deurlopend en aanhoudend vir ons, en ander gesinne, te belowe dat ons hierdie babatjie gaan kan aanneem en sy moet gestop word voordat sy dit in die toekoms aan ander mense ook doen.”

Die saak teen Van den Berg is ook al verskeie kere uitgestel omdat sy siek/ongesteld was en haar regsverteenwoordiger mediese sertifikate by die hof ingedien het. Haar aanvanklike regsverteenwoordiger het ook van die saak onttrek waarna sy regshulp van die staat gekry het. Dit het egter aan die lig gekom dat sy nie vir regshulp kwalifiseer nie, omdat sy bo die inkomstekerf vir hierdie diens verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Selfs maatskaplike werkers dink deesdae daaraan om geld te maak uit elke moontlike bron, selfs kinders. Is dit nie siek nie!

Tanniepetoors ·

Hartverskeurend vir voornemende ouers om so bedrieg te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.