Privaatvervolgingseenheid gryp in ná onnie tiener glo verkrag

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid plaas tans druk op Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, asook die plaaslike polisie nadat aantygings van ʼn verkragting by ʼn plattelandse skool buite Johannesburg glo nie aandag geniet nie.

Luidens ʼn verklaring wat AfriForum Woensdag uitgereik het, is ʼn leerder (14) van die Aha-Thuto Sekondêre Skool na bewering verlede jaar deur ʼn manlike onderwyser by dié skool verkrag waarna ʼn saak van verkragting in September verlede jaar by die polisie aanhangig gemaak is. Die leerder het nie ouers nie en is op haarself aangewese.

Dié aantygings het egter sedertdien op dowe ore geval waarna Angel Ndaba, voorsitter van die skool se beheerliggaam, en Philemon Ndaba, voorsitter van die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco, die privaatvervolgingseenheid genader het om die ondersoek verder te neem.

Volgens Andrew Leask, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is daar geen gevoel van dringendheid by die polisie om die aantygings te ondersoek nie. Leask voer aan dat die departement van onderwys sedertdien ook nog nie opgetree het soos hulle gedurende soortgelyke aantygings van seksuele aanranding teen ’n onderwyser van Bryanston High School vroeër vanjaar opgetree het nie.

“Hierdie beweerde misdryf word in ’n baie ernstige lig beskou aangesien ’n minderjarige kind betrokke is en die polisie spesifiek getaak is om kwesbare groepe soos vroue en kinders te beskerm. Die feit dat sowel die polisie asook die provinsiale onderwysdepartement nie optree nie, is ’n gruwelike versuiming van hul pligte en daarom het AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot die saak toegetree. Die polisie kan nie selektief wees met die vervolging van verdagtes nie.”

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, wou op haar beurt weet waarom Lesufi nie met dieselfde ywer teen die beweerde oortreder optree nie. “Lesufi se tendens om net betrokke te raak by kwessies waar hy media-aandag kan geniet, is tot nadeel van die kwesbaarste leerders wat eintlik sy aandag en toewyding die nodigste het,” meen Bloem.

Luidens die verklaring is die onderwyser wat van die misdryf beskuldig word sedert die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het van die skoolterrein verwyder en ondersoek die polisie die klagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Karlien ·

Die informele gebruik van ‘onnie’ in MM se kop vd berig is steurend.
Dit versag die algemene narratief vd berig. So asof hierdie n informele aangeleentheid is, eg: ” Hey tjommies, raai wat – my onnie het my vandag verkrag”

Bollie ·

As jy teen die tyd nog nie weet dat joernaliste opskrifte opstel om lesers te lok nie.. hulle ook lief daarvoor om alles te verklein, veral dogtertjie, seuntjie, mamma, en enige gelowige verwysing of gebed in die hoof paragraaf is goudwerd

Valerie ·

Karlien, skerp oog wat jy het. Ek moet saam met jou stem. Dit maak nie saak hoe algemeen die tipe verkragtings voorkom nie, dit bly ‘n erge bose ding. “Leerkrag” of enige ander woord so meer van pas wees.

SjN ·

Lesufi sal niks doen nie, daar is nie ras betrokke nie en hy sal dus nie pers publisiteit geniet nie. Kry iemand anders wat die werk kan en wil doen.

Manie ·

Lesufi sal nie n vinger verroer want dit is normaal. Dit is net n sonde teen die mensdom vir hom as die wit kinders nie net die ander wil speel. Hoe siek kan jou uitkyk op die lewe nie word

Mb ·

Dankie AfriForum dat julle hierdie dogter by staan. Indien ek nie meer daar sou wees om my dogter te versorg nie sou ek dit uiters waardeer het indien daar iemand was wat na haar seer sou omsien.

Dr P E van der Dussen ·

Dankie Karlien, vir u opmerking. Ek sou u graag as Juffrou of Mevrou Karlien wou aanspreek, maar Me weier ek nog al die jare – dit klink te veel na die Mê van ‘n skaap en dan vat u my dalk hof toe omdat ek u so noem. Ek vind dat koerante en nuusskrywers vir radio en TV dikwels plattaal ook genoem straattaal gebruik. Vind hulle en hulle redakteurs/-trises dat hulle daarmee grappig is? Of leer hulle dit aan die oorwegend-liberalistiese opleidingsentrums dat hulle sodoende gewild raak? Woorde soos Jan is gepos of LP`s looi Minister op plakkate en voorblaaie van Afrikaanse koerante is eenvoudig onaanvaarbaar. Terloops: Wat het van beleefdheid geword as vreemde mense “jou” en “jy” aan te spreek in plaas van “u”? Ek is 84 en nie op onnodige formaliteit gesteld nie, maar daar is darem perke…… En ek erken eerlik: Ek het ookal in daardie gewoonte begin verval om selfs my Dominee as jy aan te spreek.

Robert ·

Shame Dr van der Dussen ek is ook ‘n Dr maar jy kan my maar as jy/jou aanspreek ek voel nie verhewe maar as jy vir my oom sê dan raak my respek vir jou minder

DA BO ·

Ek is baie bly dat ander ook weet hulle sal gehelp word by afriforum. Hopenlik sal die persepsie dat dit net wittes help weldra gesmoor word.

Hanna Hoekom ·

Lesufi is tog te besig om funksionele (lees: Afrikaanse) skole te takel in plaas van werklike probleme en wanfunksionele skole aan te spreek. As daar nie n rassistiese konotasie gemaak kan word nie, stel meneer geensins belang nie. Wat n liederlike mislukking is hy nie!

H ·

Dankie MM ek stem saam met Mb dat julle die erns van die saak sien en die dogter help.

Verder verstaan ons wat beteken onnie en lees in die berig julle is ernstig oor die saak.

Dankie en sterkte AfriForum

Anti-Lesufi ·

Nee, Lesufi se aandag is slegs gevestig om AFRIKAANS dood te maak. Hy gee nie ‘n flenter om vir sy eie mense nie. Dis erg dat die arme kind ook nie ouers het en sy aangewese is op haarself is.

Julie Jansen van Rensburg ·

Wat my lelik die swernoot in gemaak het is toe Blade Nzimande onlangs as Minister van Onderwys aangestel is, maar ewe skielik is hierdie Lesufi weer terug in hierdie pos – WAAROM? Is dit omdat hy alles in sy vermoë doen om Afrikaans op elke moontlike wyse te probeer begrawe? Persoonlik dink ek sou Nzimande die onderwys baie beter behandel het – ek mag verkeerd wees, maar Blade kom my meer “wys” voor, as julle my bedoeling met die woord begryp… Dankie tog dat ek nie meer skoolgaande kinders het nie – my driestuks het hier vanaf die sestigs tot sewentigs skoolgegaan toe onderwys nog ONDERWYS was… en ek kan miskien ook byvoeg toe die leerkragte nog DISSIPLINE toegepas, en leerlinge respek teenoor hulle leerkragte getoon het… moet ook byvoeg dat wanneer nodig, die rottang ook ‘n rol in daardie dissipline gespeel het… SPREUKE 13: 24 – Wie die roede terughou haat sy seun, maar hy wat hom liefhet besoek hom met tugtiging EN SPREUKE 22:15 – As die sotheid vassit in die hart van die seun sal die tugroede dit daaruit verwyder. Die Here het kinders GOED in hulle sitvlakkies opgestop,,, of hoe???

En nou? ·

Is die EFF en die ANC vroueliga al genader vir kommentaar, want ek sien hulle nerens nie, of is hulle nog almal by die Spur?

Geenaksie ·

Verkragting is nie prioriteit nie.
Verkragters – veral die wit manne met die geld – kom weg. Die voorbeeld wat hulle stel maak dat die RES van die verkragters lekker voortgaan sonder vervolging of “aandag”…..
Hierdie onderwerp se wette le in die hande van manne…wat nie noodwendig verkragting as “verkeerd” sien nie…
VERKRAGTERS KOM DAAGLIKS LEKKER WEG MET DIT… EN HULLE GLIMLAG OP DIE VOORBLAAIE VAN DIE KOERANTE.

Afgeskeepte onderwerp in ‘n land waar die misdaad eintlik GOEDGEKEUR Word deur regters ens…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.