Private finansierders toon belangstelling in SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Volgens die departement van openbare ondernemings toon al hoe meer finansierders van die private sektor en private ekwiteitbeleggers belangstelling om kapitaal voor te skiet vir die nuwe Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en sy filiale.

Dít volg nadat krediteure verlede maand eindelik ’n sakereddingsplan goedgekeur het en die departement reeds weggespring het om die SAL uit die as te laat herrys.

Die departement het Maandag in ’n verklaring gesê hy het teen die begin van vandeesmaand reeds belangstelling van tien finansierders vir die SAL en filiale Air Chefs, South African Airways Technical en die plaaslike lugredery Mango ontvang.

Luidens die verklaring is die departement, die enigste aandeelhouer namens die regering, nou in die proses om die belangstelling van verskeie plaaslike asook internasionale private ekwiteitbeleggers te evalueer as deel van die inwerkingstelling van die goedgekeurde sakereddingsplan.

“Die departement verwelkom die belangstelling van ’n mengsel van plaaslike en internasionale beleggingsgroepe om tegniese, finansiële en operasionele kundigheid aan die nuwe SAL te bied. Sodoende word Suid-Afrikaanse eienaarskap verseker terwyl die beleggersbasis gediversifiseer word.”

Die departement het nou ook ’n lys van eienskappe bekendgemaak waaraan die regering wil hê die nuwe SAL moet voldoen. Dít sluit in ’n kleiner maar doeltreffende raad van direkteure, ’n gemotiveerde arbeidsmag, ’n doeltreffende en moderne vliegtuigvloot teen mededingende tariewe wat sal lei tot kostedoeltreffendheid, asook ’n aanbieding van die regte roetes, tye en mededingende pryse.

Maroela Media het vroeër berig die departement hou toesig oor die inwerkingstelling van die vrywillige skeidingspakkette vir werknemers, asook die aanstelling van nie-uitvoerende direkteure en ’n nuwe bestuurspan vir die SAL.

Ingevolge die sakereddingsplan gaan 1 000 werkers uit die huidige personeelkorps van nagenoeg 5 000 werkers behoue bly om ’n nuwe lewensvatbare, volhoubare en mededingende lugredery op die been te bring wat plaaslike, streeks- en internasionale vlugte kan bedryf.

R2,2 miljard is begroot vir afleggingspakkette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Die lys van eienskappe: wie bluf nou vir wie. Dit sal maar kortsigtige roekelose finansierders wees met ‘n baie kort geheue. Sterkte manne jul geld pla jul blykbaar!!

koos10 ·

Stop die bus. Hoeveel geld het die belasting betaler en pensioen fondse in SAA gestort?
Hoe kan die Dept. names die regering dan die enigste aandeelhouer wees????
Die “bate” behoort aan die mense van SA!!!

Johan ·

hierdie was maar net n slim slenter van die anc om van al die wittes by SAL ontslae te raak——–

Scalla ·

Die sogenaamde finasierders word seker gekoppel aan die regering.

Niklaas ·

Iewers agter die skerms word gekonkel en niks sal my meer verbaas nie.
Wie wil juis nou enige geld belê in hierdie spul ?

Johnny ·

Ek glo hierdie storie die dag wat die kamtige belangstellendes hulleself openbaar.

Pieter ·

Die “finansiers” skenk basies geld aan SAA (anc) sodat hulle net vetgemaakte regeringsontrakte in ruil kan kry. Op einde betaal ons as werkende balsting-betalers maar weer vir die gemors, soos altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.