Private hospitaal sluit dalk sy deure

Die Netcare Bougainville-hospitaal. (Foto: Netcare Bougainville-hospitaal/Facebook)

ʼn Private hospitaal wat vir byna 25 jaar die inwoners van Pretoria-Wes bedien, gaan dalk binnekort sy deure sluit.

Netcare het Woensdag aangekondig dat die Netcare Bougainville-hospitaal op 30 April sal sluit indien daar nie ʼn geskikte koper vorendag kom om die hospitaal oor te neem nie.

Johan Smal, streeksdirekteur van Netcare se Noordoos-streek, sê Netcare het voortdurend strategiese hersienings van sy bateportefeulje gedoen en bevind dat dié 60-bed-hospitaal geruime tyd al onderpresteer.

“Die hospitaal se onderprestasie heers al van voor die Covid-19-pandemie, maar het weens die nadelige gevolge van die pandemie vinnig vererger,” sê hy.

“Hierdie, en ander omstandighede, maak die Netcare Bougainville-hospitaal nie meer lewensvatbaar in die huidige sakeomgewing nie.”

Die hospitaal se 37 personeellede is reeds in kennis gestel oor die fasiliteit se toekoms en besprekings oor alternatiewe indiensnemingsposisies is onderweg.

Terwyl sommige private hospitale in Gauteng oënskynlik swaar trek, voldoen nie een van die provinsie se openbare hospitale aan die nodige gesondheid- en veiligheidswetgewing nie.

Dit volgens verlede jaar se derde kwartaalverslag van die Gautengse gesondheidsdepartement wat vandeesweek in die provinsiale wetgewer ter tafel gelê is.

Jack Bloom, DA se skadu-LUR vir gesondheid in Gauteng, sê uit die 37 openbare hospitale in die provinsie kan nie een aan al 23 regulasies ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid- en Veiligheid (OHSA) voldoen nie.

Die OHSA-wetgewing vereis onder meer dat verteenwoordigers van elke hospitaal aangewys word om op gesondheid- en veiligheidskomitees te dien en verskeie gevaar- en riskio-evaluerings te doen om die lewens van pasiënte en personeel te beskerm.

Die departement het erken dat openbare hospitale nie doen wat dié wet vereis nie, en boonop nie eers die notules van vergaderings aan die departement verskaf nie.

“Na raming sal dit sowat R6 miljard kos om te verseker dat al die openbare hospitale in die provinsie aan die gesondheid- en veiligheidswetgewing voldoen,” sê Bloom.

Luidens die verslag voldoen slegs ses hospitale in Gauteng aan ses van OHSA se statutêre vereistes. Dié hospitale sluit in die Tara-hospitaal in Sandton, die Kopanong-hospitaal in Vereeniging, die Sebokeng-hospitaal in Sebokeng, die Medunsa mondgesondheidsentrum in Ga-Rankuwa, die Tshwane distrikshospitaal in Pretoria en die Far East Rand-hospitaal in Springs.

“Dit is uiters onstellend dat jare se swak besteding aan onderhoud tot die swak toestande van ons hospitale gelei het en dus die lewens van pasiënte en personeel in gevaar stel,” sê Bloom.

“Ons benodig ʼn behoorlike plan met voldoende finansiering om te verseker dat al Gauteng se openbare hospitale teen vermybare gesondheid- en veiligheidsrisiko’s beskerm word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Wielspore ·

Die sluiting van ‘n privaat hospitaal agv laer getalle van pasiente is ‘n aanwysing dat mediese fondse onbekostigbaar is vir landsburgers.

VaalDonkie ·

Is waar. Wie het nou R8000+ vir twee volwassenes en ‘n kind? Ek doen blykbaar goed finansieel en ek kan slegs Discovery se Coastal Core vir 2+1 teen R5000 bekostig. As ek R8000 moet betaal, dan moet ons ons huis verkoop en op ‘n knoppie in ‘n woonstel loop bly. Daai R3000 is my kind se skoolfonds en sport elke maand. En ek sal nooit in my lewe ooit kwalifiseer vir finansiele bystand nie, so ons karring maar aan met ‘n hospitaalplan en pappa haal maar die debietkaart uit vir die dokter.

Anel ·

En dan wil die regering ‘n Nasionale Gesondheid Sorg implementeer! Behoede ons!!!!!

tierwyfie ·

Dis nog ‘n ramp wat wag om te gebeur. Alles moet mos ten gronde gaan

Jacobus ·

Te oordeel aan die toestand van Openbare hospitale kan ek nie die doel van NGV sien wat die narre daarop uit is om te implementeer nie – behalwe vir ‘n plunder poel.

Kwikkie12 ·

Dit is baie hartseer maar ongelukkig is die privaat gesondheidsektor net daarop uit om reuse wins te maak met geen liggaam wat hulle winsmaak reguleer nie?

Chantel ·

TWAK man, hulle auditeursverslae is openbare kennis, en as jy dit gaan opsoek sal jy dit kan sien. Kan jy dit van die staatshospitale sê.

Marcello ·

Ek kan nie glo die Kopanong-hospitaal in Vereeniging, en die Sebokeng-hospitaal in Sebokeng, voldoen aan OHSA Statutêre vereistes nie…

Mrs H ·

Dit wys jou net hoe laag is standaarde van vereistes. Ek is ook baie verbaas oor Kopanong en sukkel om dit te glo. Dalk nog n bruin koevertjie onder die tafel deur?

VaalDonkie ·

OHSA is net ‘n stok om privaat-instellings mee te slaan.

anniekiewiet ·

Dit voldoen net aan enkele punte, nie ten volle nie, as ek reg verstaan.

Mariana ·

In besigheid gaan als mos maar oor geld. So lê baie hospitale in die land as gevolg van swak bestuur.

annie ·

Is daar ‘n meer vervalle hospitaal as die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein? Skandalig!!

anniekiewiet ·

Ek probeer om nie te onthou hoe goed dit paar dekades gelede was nie, mense sou mekaar vertrap om daar in te kom.

Mrs H ·

En Midvaal Privaat Hospitaal in Vereeniging vra jou sommer amper R3000 vir n vinnige Klem-in-die-Kaak inspuiting! Skandelik!!!

Ian ·

Alles gaan oor geld. Sekerlik maak die ander familie hospitale genoeg om hierdie een te susidieer. Sies. Skaam julle.

Waarnemer ·

Staatshospitale behoort aan die regering en net soos alle stsstsdepartemente sgteruitgaan,do gaan die stastshospitale agteruit….en floreer privaat hospitale…..Die dae toe dokters n eed afgele het om ALLE siekes te behandel is verby,”as jy nie geld het nie gaan dood by jou huis,nie in my hospitaal nie.”

Genis ·

Bougainville-hospitaal is al vir lankal op die afdraande pad…

Tino ·

Hier is groot geleentheid vir die staat om ‘n fasiliteit teen ‘n winskoop te kry, my 5c maar die kaders gaan dit nie sien en benut nie

Elize ·

Dis jammer. n Familielid was onlangs daar opgeneem, die hospitaal was baie skoon en die verpleeg personeel baie hulpvaardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.