Private sektor toon belangstelling in hervormde SAL

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse regering het reeds verskeie voorstelle van finansierders en moontlike vennote in die private sektor gekry wat betrokke by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wil raak as dit geherstruktureer word in ʼn nuwe, nasionale redery.

Dít volgens die kantoor van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat sê ʼn nuwe nasionale lugredery moet uit die sakereddingsproses tot stand kom.

“Die regering wil geloofwaardige voorstelle vir belegging en strategiese vennootskappe met die private sektor verder voer, asook billike deelname vir werkers. Sulke vennote sal ook tegniese, finansiële en bedryfskennis bydra,” het die departement gesê.

Die sukkelende staatslugdiens se krediteure vergader Donderdag en gaan na verwagting stem oor ʼn plan wat die SAL se sakereddingspraktisyns voorgelê het. Dié stemmery is al verskeie kere uitgestel.

Die departement het ook gesê hy gaan enige stappe deur SA Airlink teenstaan om die sakereddingspraktisyns te verhoed om met vandag se beoogde vergadering voort te gaan.

Gordhan het weer benadruk dat die regering verbind bly tot die proses om die SAL te hervorm en te transformeer tot ʼn “lewensvatbare, volhoubare en mededingende nasionale lugredery”. Dit moet egter “geen nalatenskap van finansiële en bedryfsprobleme hê nie”.

Die SAL het in bykans ʼn dekade geen wins getoon nie en het oor die afgelope 14 jaar verliese van nagenoeg R28 miljard gely. Die huidige nasionale begroting maak voorsiening vir nog R11 miljard vir die lugdiens om sy krediteure te betaal.

Gordhan sê die lugvaartbedryf, en veral die passasierslugvaartbedryf, speel ʼn belangrike rol om onder meer ʼn diens aan ekonomiese bedrywe soos die toerismesektor te lewer en hulle te help groei.

Die minister het toegegee dat die Covid-19-krisis lugrederye wêreldwyd onder groot druk geplaas het, maar dat daar moontlikhede vir vennootskappe is wat waarde tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die langtermynvolhoubaarheid van die lugvaartbedryf kan voeg.

Gordhan het gesê die regering wil graag sien dat die sakereddingsproses lei tot ʼn lugredery wat die regte roetes teen mededingende pryse vlieg en wat oor die regte vloot, ʼn gemotiveerde werksmag en ʼn bevoegde raad sal beskik.

Gordhan is ʼn groot teenstander van die likwidasie van die SAL en het in die openbaar met die sakereddingspraktisyns daaroor gebots nadat hulle gekla het dat dit moeilik is om ʼn sakereddingsplan voor te lê sonder enige aanduiding van wat die staatskas tot die proses gaan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wilhelm ·

Al wat uit hierdie SAL sage duidelik geword het is dat Gordhan ook maar net nog ‘n ANC skurk is.

Althes ·

Dit is seker ñ goeie plan? Dan los hul ten minste die pensioenfondse uit?

Johnny ·

Ek glo hierdie nie vir ‘n enkele oomblik nie. Eerstens is die stelling gemaak deur die dept van openbare werke, wat ‘n direkte belang het hierby. Tweedens is dit 2 dae voor krediteure moet stem oor die “reddingsplan”. Derdens word nie ‘n enkele potensiële belegger se naam genoem nie.
Hierdie klink asof hulle probeer om die publiek te oorreed om te glo SAL is ‘n goeie ding om nog belastinggeld op te mors.

4ntj13 ·

Ek dink lankal die enigste doel met SAL is om politici se rondrits verder te sponsor.

Prikkie ·

Wat het van die oopkop MInister van finansies Pravin Gordhan geword, want die huidige Pravin is nou iemand anders ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.