Private skole kan leerders nie net uitskop – hof

Die konstitusionele hof. (Foto: Ashraf Hendricks)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die konstitusionele hof het beslis dat private of onafhanklike skole voortaan nie meer op hul kontrakte met ouers mag staatmaak as die grondslag waarop ʼn leerder sonder ʼn billike verhoor uit die skool geskop kan word nie.

Die hof het bevind skole het ʼn grondwetlike plig om te verseker dat die beste belange van kinders eerste gestel word – en dit sluit hul reg op basiese onderrig in.

Die saak, wat verband hou met ʼn gr. 4- en gr. R-leerder by Johannesburg se Pridwin Prepatory School, het in 2016 al begin. Die kinders is gedwing om die skool te verlaat nadat hul ouers hulle herhaaldelik sleg gedra het.

Die hooggeregshof en die appèlhof het teen die ouers beslis en gesê die kansellasie van die kontrak, wat opskorting “vir enige rede” moontlik maak, was wettig.

Die konstitusionele hof het vier uitsprake oor die kwessie gelewer, maar almal het in wese tot dieselfde gevolgtrekking gekom. In die meerderheidsuitspraak het regter Leonora Theron gesê daar kan aangevoer word dat die saak nou suiwer akademies is omdat die kinders reeds by ʼn ander skool ingeskryf is. Die presedent wat die hooggeregshof en appèlhof geskep het, het egter ʼn wyer uitwerking op die regte van leerders by onafhanklike skole.

“Dit is die eerste keer dat die hof die kans kry om die kwessie vierkant te pak. Dit is ook ʼn skaars geleentheid weens die ingewikkeldheid en koste verbonde aan sake soos dié.”

Die verhouding tussen die ouers en die skool het versuur na drie voorvalle waartydens die pa aggressief opgetree en onsmaaklike woordewisselings by sportbyeenkomste veroorsaak het.

“Die ouers, soos verduidelik in die hooggeregshofuitspraak, het ʼn kommerwekkende, oordonderende neiging van volgehoue en onrusbarende teistering van personeel by verskeie geleenthede gewys wat gevaarlik naby aan fisieke geweld gekom het.

“Hul wangedrag is verstommend en moet ten sterkste veroordeel word,” het Theron bevind.

In ʼn stadium het die pa ʼn ooreenkoms onderteken waarin hy onderneem het om hom te gedra, maar hy het die ooreenkoms kort daarna verbreek en ʼn brief waarin die kontrak met die skool opgeskort word, is aan hom gestuur.

Die skool het nie betwis dat hy deur die Grondwet gebind word om die beste belang van die kind te verseker nie, maar sê hy kan ook nie die regte van ander ouers, die personeel, kinders en skool self uitsluit nie.

Die ander howe het bevind dat Pridwin nie “basiese onderrig” verskaf soos gedefinieer deur die Grondwet nie, omdat die reg om die skool by te woon beheer word deur ʼn kontrak wat vergelyk is met ʼn gewone huurooreenkoms of kommersiële kontrak.

“Dit is onvolhoubaar. Die voorsiening van onderrig is duidelik verskillend van enige ander kommersiële transaksie,” het Theron bevind.

Sy het gesê onafhanklike skole is ook nie net vir die rykes nie.

“In 2015 het [onafhanklike skole] voorsiening gemaak vir 566 000 leerders, ʼn toename van 40% oor die afgelope dekade. Hulle floreer weens die krisis in onderwys. En soos wat hul mag en belang aanhou groei, groei die behoefte aan grondwetlike beskerming ook.”

Theron het gesê die skoolhoof het herhaaldelik ontken dat hy enige verpligting het om die ouers, of die kinders, die reg op ʼn verhoor te gee en het aangedui dat dit ieder geval geen verskil sou gemaak het nie.

Die regter het egter gesê die doel van ʼn billike proses was nie om die pa se skuld of onskuld te bewys nie, maar om te konsentreer op óf die opskorting van die kontrak ooreengestem het met die regte en beste belange van die kinders.

“Die besluit het ʼn verreikende uitwerking op die kinders gehad. Die seuns moes die skool verlaat. Dit was die enigste skool wat die kinders geken het. Hulle het sterk bande met hul onderwysers en vriende gevorm.

“Die skool moes toegelaat het dat voorleggings aangehoor word, dat hul stemme gehoor word, óf in persoon, óf deur ʼn verteenwoordiger. Dit was nie ʼn billike proses nie en dit was nie in hulle beste belang nie.”

Die hof het beveel dat elke party sy eie koste dra omdat die aansoek vertroebel is deur die ouers se optrede wat eindelik tot die hofsaak gelei het.

Die Sentrum vir Kinderreg en Equal Education het die uitspraak verwelkom. Albei was vriende van die hof in die saak. Equal Education het gesê die uitspraak het nie net gevolge vir elite, onafhanklike skole nie, maar ook vir goedkoper skole wat bygewoon word deur leerders uit werkersklasgesinne.

Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

My gooiste dankie tog ek is lankal klaar met skool toe jy as seun nog geneuk is – 4 of 6 van die beste – en as jy by die huis kom en op ‘n manier het jou ouers uitgevind (ons het in ‘n klein dorp gebly) jy is daai dag by die skool genuek, dan is jy weer geneuk! Enigste rede dat my ouers ooit skool toe gegaan het is om my slegte merke met die hoof te bespreek, en om te kyk hoe ons sport speel. Hulle het vertroue in die hoof, onderhoof en onderwysers gehad om hulle werk te doen as professionele. Ek is nie vandag hier bo getik omdat ek pak gekry het nie.

katerinadiekat ·

Ag regtig dan kan die private skole maar toemaak. Wat is die punt van n privaatskool as hulle nie hul eie reels mag he nie?

Johan ·

Ja nee hier kom moeilikheid. Die piesang republiek het nou alweer een of ander deur toegemaak sodat die moeilikheid makkers maar net kan doen wat hulle wil.

Michael 1 ·

Net nog n bewys hoe dringend ons n onafhanklike tuisland nodig het.

capie ·

Ek dink die skool moes eerder ‘n hofbevel op die ouer se onkoste bekom het dat die ouer nie binne ‘n sekere afstand van die skool of byeenkomste waar die skool betrokke is mag kom nie agv wangedrag. Mens kry sulke ouers en dan kry jy die arme kind jammer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.