Private veiligheidsdienste onder groot druk

Polisiebeamptes en lede van private veiligheidsdienste patrolleer die strate van ‘n gebied in Johannesburg tydens die afgelope paar dae se oproer. (Foto: Marco Longari/AFP)

Die veiligheidsgroep Fidelity het sy kontanttransitovoertuie uit geweldgeteisterde gebiede onttrek tot die situasie daar stabiliseer.

Talle voorvalle van geweld, misdadigheid en plundery het die afgelope paar dae eers in KwaZulu-Natal gewoed en toe na gedeeltes van Gauteng en sommige ander provinsies oorgespoel.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity Services Group, sê die besluit is in die belang van hul mense en die bates wat hulle vervoer, geneem.

“Sedert die chaos in Natal het ons heelwat opstande, brande, omvattende skade aan eiendom én plundery gesien wat na verskeie ander gebiede versprei het.

“Ons is bewus van die druk op baie van ons kommersiële klante, veral kleinhandelaars, wat die gevaar loop om onder grootskaalse plundery deur te loop,” sê Bartmann.

Aan die Gautengse Oos-Rand en in die suide van Johannesburg het die maatskappy bykomende spesialisspanne ontplooi om persele teen plunderaars te beskerm. Dit het ingesluit lugsteun en voete op die grond om boewe te verjaag.

Fidelity sê hy het die naweek reeds ʼn gesamentlike operasionele sentrum op die been gebring om die situasie deurgaans te monitor sodat hy dadelik lugsteun en spesialisgrondpatrolliespanne kan ontplooi.

“Die situasie is egter geweldig vloeibaar en ons hou bedrywighede fyn saam met wetstoepassingsowerhede dop. Ons probeer ondersteuning gee waar ons kan, maar die situasie is uiters gewelddadig en ʼn hele aantal van ons werkers is reeds beseer,” sê Bartmann.

Hy sê in woonbuurte is die ontwrigting minimaal.

“Ons hou egter steeds alle woongebiede waar klante ook geraak kan word, fyn dop en raai al ons klante in dié buurte aan om hoërisikogebiede te vermy.

“Ons doen ʼn beroep op alle burgers om waaksaam te bly terwyl wetstoepassers werk om die situasie te stabiliseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stephanus ·

Sien en hoor hoe daar telkemale n beroep op mense gedoen word om hul waaksaamheid op te skerp. Ek sal graag wil weet wat daarmee bedoel word? Die plunderaars het die reg om te toy-toy terwyl diegene wat huis en haard wil beskerm se hande meer en meer afgekap word met woorde soos *moenie die reg in eie hande neem nie” en “selfverdediging is nie n motivering vir die besit van n handwapen nie* asook” vermy hierdie of daardie gebied of pad omdat hulle daar doenig is”. Ek persoonlik voel asof n mens tussen twee vure is omdat diegene wat jou moet beskerm ooglopend afwesig is maar vinnig op jou kan toesak as jy jouself of jou eiendom beskerm. Waar is Cele nou? Noudat Zuma weg is, hou hy dalk n ogie oor al die “vele weduwees en wesies” in Nkandla? Sedert die begin van die strooptogte hoor of sien n mens hom nie.

Keelvol ·

Die gene wat jou moet beskerm het tans hulle hande vol. Hulle moet teen n oormag baklei met hulle hande wat gebind is.

Harley Davidson ·

Al wat ek hieruit lees is dat die sa polisie totaal gefaal het in hulle mandaat en dat privaat sekerheidsmaatskappy opgeskerp sal moet word om voorsiening te maak vir die stygende anargie en misdaad.

Keelvol ·

118 000 polisie manne wat aktief diens kan verrig met n populasie van 50 miljoen mense. Dan is die polisie se budget ook nog gesny. Ek dink jy verstaan nie die probleem nie Jasper.

Michael ·

Hy het maar met die standaard van opleiding wat hulle het, is ek nie seker of dit ‘n goeie idee was nie

Zors ·

Dis duidelik…geen BEVEL en BEHEER nie…die polisie drentel net rond….

Michael ·

Ek wonder hoekom loop Cele nie nou in die strate rond waar misdaad voor sy kollegas gepleeg word nie en dreig om die misdadigers te arresteer nie. Hy was vol bravade op die strande om mense wat op die seesand ontspan te loop en dreig

christo ·

En dan het die sogenaamde Ministers van Verdediging die vermetelheid om te sê die sekuriteitsmaatskappye nie hulle werk doen nie. Die Lugmag se Agusta LUH109 wit olifant helikopters kan nie lugsteun bied nie aangesien die SAPD se lugvleuel se helikopters nie operasioneel is nie a.g.v. swak onderhoud.
ANC PLAYING THE BLAME GAME

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.