Private vervolger se verkragtingsaak wéér uitgestel

Tydens ’n vorige hofverskyning waar die slagoffer se vriende haar by die hof ondersteun het. Van links is Desiré Jordaan, Lynette van Zyl, Sandy Richie, Gavin Donnoly (agter), Celeste Gouws, Dafré Troskie en Katja Offerman. (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het gister (13 Julie) sy vervolging van ’n vermeende verkragter in die streekhof op Somerset-Oos voortgesit.

Die saak is egter tot vandag (14 Julie) uitgestel nadat die verdediging op meer tyd aangedring het om beeldmateriaalbewyse te bestudeer. Dit is die vierde keer dat dié saak uitgestel word.

Maroela Media het in Februarie berig dat Celeste Gouws, ’n private vervolger, in September 2017 na bewering in haar huis verkrag is nadat sy vermoedelik bedwelm is. Die verdagte is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van verkragting en huisbraak met die doel om te verkrag.

Die private vervolging kom nadat die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen die verdagte in te stel.

Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vroeër gesê die enigste afleiding wat ten opsigte van die DOV se weiering om te vervolg gemaak kan word, is dat die beskuldigde weens sekere konneksies voorkeurbehandeling kry.

“AfriForum is van mening dat die hantering van die saak tot op hede daarop dui dat daar politieke inmengery in die saak was, siende dat die verdagte en sy familie politieke bande het.

“Die saak is al drie keer vantevore uitgestel vir verhoor weens vertragings deur die verdagte se regspan. Hy het vandag in die beskuldigdebank verskyn, geklee in ’n ANC-baadjie,” het Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, Dinsdag gesê.

Volgens Broodryk het die verdagte se regspan weer eens gepoog om die verhoor te vertraag deur te beweer dat hul nog nie die videobewyse onder oë gehad het nie.

“Nel het bewyse voorsien wat aandui dat die beeldmateriaal al twee keer aan die verdagte en sy regspan verskaf is. Ten spyte hiervan het die verdediging aangedring op meer tyd om die beeldmateriaal te bestudeer.”

Die saak is gevolglik tot 14 Julie uitgestel.

“Dit is voor die hand liggend dat die beskuldigde en sy regspan doelbewus die saak probeer vertraag.

“Dit is nou maar net nog ’n voorval waar die regsproses vroueslagoffers faal, pleks om hulle te help beskerm. Dit wek ernstige kommer oor die stand van die strafregstelsel. Die slagoffer se hele lewe is verwoes weens hierdie voorval en sy verdien geregtigheid,” het Broodryk gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Hoop die regter staan sy man/vrou, en word nie omgekoop nie