Private vervolging van Modise, Moyane, Bizos uitgestel

Thandi Modise, speaker van die parlement. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die private vervolging van Thandi Modise, speaker in die Nasionale Vergadering, Tom Moyane, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en Alexis Bizos, seun van adv. George Bizos, is voorlopig uitgestel as gevolg van die landwye afsondering.

AfriForum se private vervolgingseenheid behartig hierdie drie vervolgings.

Modise moes op 8 Mei in die Potchefstroomse streekhof verskyn het sodat ’n verhoordatum vasgestel kon word. Sy moes ook verduidelik waarom sy op 24 Maart versuim het om in die hof te verskyn op ʼn klag van dieremishandeling.

Modise se hofdatum is op 8 Mei deur landdros Ben Mtebele uitgestel tot 1 Julie. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, vervolg Modise in haar private hoedanigheid namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV).

Bizos gaan weer op 18 Augustus in die hof verskyn waar ’n verhoordatum vasgestel gaan word. Dié hofdatum is op 4 Mei in die Johannesburgse landdroshof vasgestel.

Die klag teen Bizos hou verband met beweerde aanranding met die doel om ernstig te beseer. Bizos het sy eksvrou, Monique van Oosterhout, na bewering in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek. Nel vervolg Bizos namens Van Oosterhout.

Moyane se verhoordatum is op 6 Mei in die Roodepoort-landdroshof tot 8 September uitgestel. Nel vervolg Moyane namens Lerato Maila, die ma van Moyane se kleinkind, op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer asook ʼn klag van saakbeskadiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hans ·

Daai tannie kon nie eers haar beeste en skape versorg nie en nou is sy in beheer van ons parlement???!! Geen wonder dit ontaard met elke sitting in n reuse sirkus. Honourable member…. My voet!!

JohanR ·

Thandi Modise se saak gaan nou al ses jaar aan vanaf 2013. As dit jy en ek was sou die saak binne ‘n maand verhoor gewees het en ek en jy sou in die tronk gewees het, net om nou die 19003 en 19004 wees om vrygelaat te word. Sy is nie geskors nie, haar salaris is nie opgeskors nie. In Engels se mens “she just kept on trucking”!

Boortor ·

Gaap gaap! Uitstel uitstel! Waar het ons die woord” gevonnis” verloor!!??

Hekwag ·

Ry hulle, Mnr Nel… en vat sommer ou Zuma ook vas. Hy moes lankal reeds agter tralies gewees het.

Kokerboom ·

Wat ‘n voorbeeld stel die sog. agbare lede nie aan die inwoners van die land. G’n wonder wetteloosheid vier hoogty

marius ·

Waarom dan anders ? Hulle gaan nog amnestie ook kry . Hou maar dop .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.