Private vervolging van Modise tot dán uitgestel

Thandi Modise. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die private vervolging van Thandi Modise, speaker in die Nasionale Vergadering, is Woensdag in die Potchefstroomse streekhof in Noordwes tot Desember uitgestel. Dít nadat dit vroeër vanjaar ook uitgestel is weens die algehele landwye afsondering.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, sê in ʼn verklaring die private vervolging van Modise is tot 1-3 Desember uitgestel.

Volgens Leask moes Modise vandag redes aan die hof verskaf waarom sy in Maart versuim het om in die hof te verskyn op klagtes van dieremishandeling teen haar. Die hof het egter beslis dat sy weens die Covid-19-pandemie genoegsame rede gehad het om nie te verskyn nie.

Luidens die verklaring het Modise se regsverteenwoordiger in Maart geargumenteer dat sy deur pres. Cyril Ramaphosa aangesê is om die pandemie te help bestuur. Modise het ook vandag aangevoer dat sy nie op 24 Maart in die hof kon verskyn nie omdat die president op 23 Maart ʼn dringende vergadering met haar versoek het.

Volgens Leask het Modise se prokureurs die privaat vervolgingseenheid egter reeds op 18 Maart in kennis gestel dat sy weens dié vergadering (op 23 Maart) nie op 24 Maart in die hof sou wees nie.

Leask verduidelik dat Modise ook nie Ramaphosa daarvan in kennis gestel het dat sy op 24 Maart in die hof moes verskyn het óf versoek dat die vergadering geskuif word nie.

Volgens Leask het Modise egter op adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, se vraag hieroor geantwoord dat sy twyfel of Nel dié vraag aan haar sou stel indien die president ’n wit man was.

“AfriForum verwelkom die feit dat daar nou uiteindelik ʼn datum vir vervolging vasgestel is, maar ons sal nie toelaat dat die beskuldigde hierdie verhoor in ʼn rasseherrie laat ontaard nie – die regstelsel is veronderstel om kleurblind te wees,” meen Leask.

“Niemand is verhewe bo die reg nie, nie eens die speaker van die parlement nie. AfriForum se privaat vervolgingseenheid sien daarna uit om uiteindelik met die verhoor te begin sodat Modise verantwoording kan doen vir hierdie wrede geval van dieremishandeling.”

Die privaat vervolgingseenheid het verlede jaar aangekondig dat hy Modise privaat namens die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) gaan vervolg.

Maroela Media het vroeër berig die NDBV het in Julie 2014 ʼn klagte ontvang van een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het.

Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê Modise se plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke.

Die oorlewende diere, waaronder varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ʼn haglike toestand. Die NDBV moes 162 diere weens die haglike omstandighede van kant maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Hoekom vat die altyd soe lank om ‘n ANC selfs net in die hof te kry, en dan nog langer om ‘n ANC gevonnis te kry? As haar naam Joanna Beukes was en sy was ‘n kassier by Shoprite, sou die saak sommer tjof tjof tjof afgehandel gewees het, en Joanna sou daar in die selle by Pollmoors gesit het saam met 40 ander. Maar dan kan Joanna ook nie die belastingbetaler se geld gebruik on haar hofgeding te beweg nie. Arme Joanna moet maar by die ANC aansluit.

Sarel ·

Nog een watcso beskerm gaan word dat sy nooit in die Hof gaan kom nie.
Nog ‘n soort ” Zuma” sage

johan ·

arme onskuldige diere, ek sidder om te dink waar toe sommige mense wat die land “lei” nog in staat is..

Elize ·

Ou bitterbek – die uitdrukking op die gesig. Sy weet sy is in die sop dis hoekom daardie uitdrukking so duidelik is

Johannes Andries ·

Op haar plaas? En dan wil hulle die goeie boere se plase ontein en dit aan hulle gee? Die hemele behoed ons. Ek dink Agriforum moet die saak tot in die parlement voer oor die saak van onteining sonder vergoedings. HAAR PLAAS MOET DIE EERSTE WEES WAT ONTEIN MOET WORD !!!

Adri ·

Lees ek reg? Haar regsverteenoordiger het gesê sy is deur CR aangesê om die pandemie te help bestuur. Sy kon nie eens die “basic needs” (water en kos) aan haar plaasdiere voorsien nie . Hoe op dees aarde gaan sy COVID-19 help bestry? Afgryslik wat op haar plaas gebeur het.

Scalla ·

Uitstel uitstel, al 6 jaar lank, sy is mos nie vehewe bo die wet nie, Cr het dan weer bevestig dat die grondwet gerespekteer moet word, kan nie eens basiese versorging van diere wat geskep is vir die mens om te onderhou omsien nie, hoe wil sy dan n parlementsvergaderings bestuur, een groot grap.

Nie Verbaas ·

Ek hoop van harte sy kry wat haar toekom. Dit is tyd dat ANC se hartelose dade gestraf word, en dit gaan vir hulle almal wat skuldig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.