Privatisering van treine nie ʼn opsie nie, meen Untu

(Foto verskaf deur Untu)

Die United National Transport Union (Untu) glo nie dat daar enigiets van sal kom van pres. Cyril Ramaphosa se plan om sommige van die groot passasierroetes in Suid-Afrika te privatiseer nie. Dit sal ook nie die regering se doel ondersteun om armoede te verlig deur veilige en bekostigbare vervoer aan werkers te verskaf nie.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê enige privaat maatskappy wat in pendelaartreine belê sal hul geld in ʼn swart gat gooi.

“Die probleem met passasierspoorvervoer in Suid-Afrika is nog altyd ʼn gebrek aan politieke wil en dit begin by Ramaphosa en strek tot die ministers in verskeie staatsdepartemente wat saam moet werk om seker te maak dat die passasierspoor-infrastruktuur wat ons oor het in die land beskerm word en dat ons in staat is om dit te beskerm terwyl ons moderniseer en herstel wat oor is,” het Harris bygevoeg.

“Wat is die nut om privaat maatskappye te nader om dié verpligting van die staat teenoor sy burgers oor te vat indien die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie spoorverwante misdaad kan bekamp nie? Indien verdagtes in hegtenis geneem word, het die polisie nie die ervaring om deeglik ʼn prima facie-saak te ondersoek nie en dit maak dit onmoontlik vir die nasionale vervolgingsgesag om dit te vervolg.”

Untu en sy geaffilieerde federasie, die Federation of Unions of South Africa (Fedusa), het memorandums aan die president se kantoor en sy verteenwoordigers landswyd oorhandig tydens betogings op 26 Julie 2019 waar die regering se onvermoë om die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) by te staan om aan sy verskeie verpligtinge teenoor werknemers en pendelaars te voldoen, uitgelig word. Dit is gebaseer op verskeie uitsprake in die konstitusionele hof.

ʼn Beroep is op pres. Ramaphosa, as die bevelshoof van die Suid-Afrikaanse Gewapende Magte, gedoen om seker te maak dat Suid-Afrikaners veilige en betroubare passasierspoordienste ontvang en om seker te maak dat die spoordiens intussen beskerm word terwyl noodsaaklike infrastruktuur en sinjaaltoerusting permanent vervang word om seker te maak die nuwe treine kan operasioneel wees.

Harris het gesê die president het die pleidooi geïgnoreer en het nie eers omgegee om te reageer op die volgende lys van nie-onderhandelbare eise nie:

  • Dat lede van die Suid-Afrikaanse Weermag ontplooi word om die 22 298 km-roetes en algehele spoorafstand van 30 400 km te patrolleer en te beskerm.
  • Dat die president die nasionale polisiekommissaris opdrag gee om seker te maak dat alle polisiebeamptes voldoen aan artikel 205 van die Grondwet om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek.
  • Dat Prasa by Transnet geïntegreer word, soos wat dit was voor 2006 toe die voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Maria Ramos, die regering oortuig het dat Prasa as ʼn afsonderlike staatsinstansie sal kan bestaan.
  • Dat Prasa voldoen aan die voorskrifte van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid wat alle mense ʼn reg tot ʼn veilige en gesonde werksomgewing bied. Dit beteken dat Prasa se bestuur en werknemers alles in hul vermoë moet doen om onnodige beserings, siektes en verliese te voorkom en, waar moontlik, ʼn gesonde werksomgewing te verseker sonder dat werknemers se lewens in gevaar gestel word.
  • Dat die polisie en die NVG ondersoek moet instel en die regbank opdrag moet gee om die voorskrifte van die Wysigingswet op Geregtelike Aangeleenthede toe te pas. Die Wet het ten doel om noodsaaklike infrastruktuur-verwante misdade te teiken met die toepas van ʼn diskresionêre minimum vonnis wat ʼn nuwe oortredingslys skep wat met noodsaaklike infrastruktuur verband hou en help om georganiseerde misdaad te voorkom. Die Wet bepaal dat enige persoon wat onwettig of doelbewus aan noodsaaklike infrastruktuur peuter, dit beskadig of verwoes, of met enigiemand saamwerk, skuldig bevind sal word en tot ʼn maksimum van 30 jaar tronkstraf gevonnis sal word, of, in die geval van ʼn korporatiewe liggaam, ʼn maksimum boete van R100 miljoen opgelê sal word.
  • Dat die president sal seker maak dat die spoorveiligheidsreguleerder (RSR) sy statutêre mandaat onafhanklik van Prasa uitvoer. Vir dit om te gebeur moet die RSR verantwoordbaar wees teenoor die minister van vervoer en Prasa (soos Transnet) moet onder die leiding van die minister van openbare ondernemings val. Dit sal voorkom dat die RSR die verantwoordbare minister hof toe te sleep indien hy wil voldoen aan sy verpligting tot spoorwegveiligheid.
  • Dat die president moet seker maak dat die departement van menslike nedersettings, provinsiale regerings en die verskeie munisipaliteite ʼn alternatiewe behuisingsoplossing moet soek en die duisende plakkers, wat so naby as ʼn half meter van spoorlyne af bly, sal verskuif. Die veiligheidsreserwe is gemiddeld tussen 20 m en 40 m om seker te maak voertuie kan langs die roete ry in ʼn noodgeval of ontsporing.

“Ons het die president gevra om ons te hoor. Maar Prasa het vererger en dit is slegs pres. Ramaphosa wat daarvoor beskuldig kan word. Ons wil hê die president moet voldoen aan sy beloftes, die belegging van R2,6 miljard om die sentrale lyn in die Wes-Kaap en die Mbopane Rail Corridor in Gauteng en Noordwes te herstel.

“Dit is wat aan belastingbetalers belowe is en dit is wat ons wil sien gebeur. As die regering begin doen wat hulle moet, sal privaat maatskappye bereid wees om te belê, nie net in ons spoorwegvervoer nie, maar ook in die regering se infrastruktuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

“Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê enige privaat maatskappy wat in pendelaartreine belê sal hul geld in ʼn swart gat gooi.”
Profetiese woorde.

Michael ·

Watter treine? Daar bestaan nie ‘n trein in die Wes Kaap wat vir my van enige nut is nie. Daar bestaan gaan publieke vervoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.