‘Pro-lewe’-dokter: Regstappe teen hospitaal oorweeg

Dr. Jacques de Vos tydens die tugverhoor. (Foto: Doctors for Life International)

Die bevelvoerder van 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad het toegegee dat dit ʼn fout was om dr. Jacques de Vos te verhoed om as mediese intern afgeteken te word.

De Vos (32) word van onetiese gedrag aangekla nadat hy ʼn pasiënt glo geadviseer het dat haar ongebore baba ʼn mens is. De Vos was ʼn intern by 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad toe die hospitaal hom geskors het weens dié beweerde opmerking.

Volgens Doctors for Life International, wat De Vos in sy tugverhoor deur die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) ondersteun, is De Vos sonder ʼn verhoor van sy ginekologie-rotasie geskors ná die opmerking. Sy internskap is in Junie 2017 reeds afgehandel en hy sou daarna met sy gemeenskapsdiens begin. Die hospitaal het egter geweier om hom af te teken en hy is sedertdien verbied om te praktiseer.

Nadat die RGB twee van die aanklagte teen De Vos laat vaar het, is dit egter bevestig dat die verhoor nié die hospitaal keer om De Vos af te teken nie.

Die nuwe bevelvoerder van 2 Militêre Hospitaal het intussen aan De Vos se prokureurs geskryf en toegegee dat sy voorgangers verkeerd opgetree het en hom daartoe verbind om te help dat De Vos afgeteken word.

(Foto: Facebook)

Doctors for Life International sê ten spyte van dié verwikkelinge, is De Vos se dokumente steeds nie afgehandel nie en oorweeg hulle regstappe om die hospitaal te dwing om hom af te teken. Hulle oorweeg ook ʼn skadevergoedingseis – teen die betrokkenes in hul persoonlike hoedanigheid – weens die skade wat hy vanweë die gesloer met die saak gely het.

Die tugverhoor het intussen die afgelope week gehoor die ongebore baba waaroor De Vos die pasiënt geadviseer het, was tussen 19 en 20 weke oud.

De Vos ontken skuld op die oorblywende twee aanklagte teen hom. Die verhoor sal op 2 April 2020 hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Ek hoop hul stuur die foto aan die vrou wat die klag gelê het.

VanAfrika

Ek dring daarop aan dat julle Dr De Vos sal vrylaat van hierdie aantygings en hom in sy volle hoedanigheid laat praktiseer. Ons het eie reg en dit was sy reg om daardie baba te beskerm omdat die kleinding nie n stem gehad het nie. Ek sou daarvan gehou het dat as dit my ma was wat my wou aboteer, daar iemand soos Dr De Vos is wat vir my regte om lewe sal baklei. Ek is seker daarvan as daardie babatjie nog lewe, hy of sy eendag Dr De Vos sal bedank omdat hy of sy kans op lewe… Lees meer »

Terrie

Hoe siek het ons wêreld nie geword nie. Is vervolgingswaansin die nuwe stokperdjie in ons samelewing. Die dokter is tog reg in sy mening. Wat noem die vervolgers, ‘n ongebore baba. Iets sê vir my dat die dokter dalk ‘n bedreiging vir sy seniors is want hy weet meer as hulle.

Maljan

Goed so. Ek hoop hulle stel n skadevergoedingseis in en dat dit slaag. Iemand behoort die ANC weer te herinner aan artikel 15 van die grondwet. As artikel 15 van die grondwet vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof en mening waarborg, hoekom was die man benadeel en verhoed om te praktiseer omdat hy n moord wou keer? Is twaalf weke nie buitendien die afsny vir wettige aborsie nie? Hoekom was Penny Sparrow, Chris Hart en andere nie ook beskerm onder artikel 15 van die grondwet nie?

Cherokee

Ek is werklik teleurgesteld dat regstappe teen die moordadige hospitaal slegs oorweeg word.