Probleme by Pretoriase laerskool duur voort

skoolskoene-2

Argieffoto.

Gerugte dat alles steeds nie pluis is met die manier waarop die beheerliggaam van Laerskool Meyerspark die skool se finansies bestuur nie, wil maar net nie gaan lê nie.

Volgens Elsa Combrink, ʼn bekommerde ouer van een van die leerders by die skool in die ooste van Pretoria, is daar nou ook van die onderwysers by die skool wat nog nie hul salarisse ontvang het nie. Daar is ook bewerings dat die beheerliggaam steeds onreëlmatige uitgawes aangaan. “Tot op datum is daar amper ʼn halfmiljoen se ‘verbeterings’ by die skool aangebring sonder die nodige planne of goedkeuring, en die snoepwinkel se verlies is tans R110 000,” het Combrink gesê.

Maroela Media het in Februarie berig oor ʼn groep bekommerde ouers van dié skool wat ʼn versoekskrif met 600 handtekeninge aan die Gautengse onderwysdepartement oorhandig het waarin hulle geëis het die beheerliggaam moet onmiddellik bedank, of deur die departement ontbind word.

Die ouers het verlede jaar met die beheerliggaam begin koppe stamp nadat daar op ʼn algemene jaarvergadering besluit is om Afrikaans as onderrigtaal by die skool af te skaf. Die beheerliggaam het ook besluit om die skool se naam, embleem en uniform te verander en die skoolure te verleng. Die onderwysdepartement het toe ingetree en bevind die beheerliggaam het nie die regte prosedures gevolg nie en Afrikaans as onderrigmedium het voorlopig by die skool behoue gebly.

Dit blyk nou ouers is steeds bekommerd oor die bestuur van die skool se finansies. Hulle het in Februarie geëis hulle moet toegang tot die skool se finansiële state en beleid kry en dat dit geoudit moet word nadat die skool glo meer as ʼn R10 000-boete van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang het vir belasting wat nie oorbetaal is nie. Daar het tot dusver egter dadels van hulle dringende versoek aan die departement gekom.

Marius Botha, ʼn onafhanklike onderwyskonsultant wat advies aan die ouers van Laerskool Meyerspark verskaf het, het aan Maroela Media bevestig die distrikskantoor het ʼn aanbeveling aan hulle hoofkantoor gestuur waarin daar aanbeveel is die beheerliggaam moet van alle magte gestroop en ontbind word. Dit lyk nou egter of die departement sloer om die aanbeveling goed te keur.

Laerskool Meyerspark se waarnemende hoof, Ockie Vermeulen, was nie beskikbaar vir kommentaar nie en Maroela Media se navrae is na die Gautengse onderwysdepartement verwys. Maroela Media het herhaaldelik telefonies en per e-pos navraag by die onderwysdepartement gedoen oor dié kwessie by die skool, maar het nog nie enige kommentaar van die departement se woordvoerder ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Die meeste skole se SBL’e kom weg met onwettighede, omrede ouers oningelig is. Ouers moet hul vereenselwig met die SA Skole Wet, asook Staatskoerant 29311 van 18 Oktober 2006. Hierdie Staatskoerant gaan oor skoolgeld konsessie. Min ouers weet dat met ‘n skoolgeld van R20,000.00 pj, kwalifiseer ouers wat minder as R660,000.00 pj jaar verdien ‘n konsessie afslag. Ook mag SBL’e nie bykomende vergoeding aan staatsonderwysers betaal, alvorens ‘n staatsonderwyser in ‘n pos aangestel word, wat bykomende pligte doen, waarvoor die staat hom/sy nie alreeds betaal. SBL’e mag ook nie beurse uit die skoolfonds betaal nie, Ook nie skoolgeld afslag gee aan ‘n leerder weens se goeiesport- of akademiese prestasie nie.

Johan ·

Interressant dat as jy op die skool se webtuiste gaan, hulle “beheerraad” bladsy leeg is. As hulle dan so oortuig is van hulle (kug) oortuigings, hoekom is hulle nie selfversekerd genoeg om hulle identiteit bekend te maak nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.