Probleme by SABS ʼn risiko vir almal, sê DA

SABS (Foto: SABS Approved, Facebook)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê probleme by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) is ʼn risiko vir alle Suid-Afrikaners.

“Die disfunksie en gebrek aan aanspreeklikheid by die SABS het Rob Davies, minister van handel en nywerheid, genoop om te eis dat die SABS-raad dringend ʼn gedetailleerde proses moet begin om ʼn omkeerstrategie vir die SABS te verseker,” het Dean Macpherson, woordvoerder vir die DA, gesê.

Dit wil voorkom of die SABS nie rekenskap kan gee vir bedryfsbates onder sy bestuur nie. Dit het aan die lig gekom tydens ʼn reaksie op ʼn vraag van die DA in die parlement, toe Davies versoek is om rekenskap te gee oor kommer wat rolspelers in die bedryf oor die SABS se toetsvermoë geopper het.

Die SABS is ʼn statutêre liggaam kragtens die Wet op Standaarde en moet nasionale standaarde, wat betref die gehalte van kommoditeite, produkte en dienste, ontwikkel, bevorder en volhou.

Macpherson het gesê die DA sal Davies nou versoek om ʼn spesifieke tydsraamwerk te verskaf wanneer die omkeerstrategie by die SABS verwag kan word, insluitend ʼn register van bates onder sy bestuur.

Die entiteit het ʼn verlies van R44.3 miljoen in die finansiële jaar 2016/17 getoon. “Dit is nou belangriker as ooit dat die omkeerstrategie geformuleer word en geïmplementeer word,” het Macpherson bygevoeg.

Davies het in sy reaksie ook die volgende laat blyk:
– die onvermoë van die SABS om die name van laboratoriums te verskaf wat gedeeltelike toetse op produkte uitvoer;
– die SABS kan nie bevestig hoeveel vervaldatum-merkers gebruik word nie, wat die produkte is of wanneer dit verval nie;
– die SABS het slegs een uitvoerende raadslid wat nie sedert 2015 bedank het nie – en dit dui op ʼn ernstige kwessie in die bestuurstruktuur;
– die SABS kan nie sê hoeveel klante hy die afgelope twee finansiële jare verloor het en wat die kostes hieraan verbonde is nie; en
– die uitvoerende hoof het ʼn motorbestuurder wat deur die raad goedgekeur is, alhoewel die redes of kostes hieraan verbonde nie bekend is nie.

“Suid-Afrika kan nie bekostig om disfunksionele standaarde of sertifiseringsliggaam te hê nie, aangesien dit ʼn negatiewe impak het op ondernemings wat steun op standaarde vir marktoegang en -groei,” het Macpherson bygevoeg. “Dit is onaanvaarbaar dat die SABS nie inligting kan verskaf oor toetsfasiliteite wat nie meer in werking is nie of wat opknappingswerk benodig en wat die verwante koste hieraan verbonde sal wees nie. Dit onthul die swak finansiële- en interne beheermaatreëls binne die SABS, wat ʼn oortreding kan wees van die interne ouditstandaarde binne die staatsdiens.

“As daar een ding is waaroor ons seker is, is dat chaos en wanorde die enigste standaard is waarteen die SABS gemeet word,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Skokkend! Maar dan weer:wat verwag jy in SA? Disfunksionaliteit op elke moontlike vlak…

Wurmpie

Wat moet nog onder swak bestuur en korupsie deurloop.

Johann Marx

Die SABS kort ‘n SABS!!

marous

Suid Afrikaanse Buro van Skande! Alles in die land het verval tot riool status en niemand dra verantwoordelikheid nie. Die land is in ‘n gemors met geen hoop op herstel nie .

Peet Schabort

Ek kan werklik nie onthou wanneer laas ek ‘n produk gesien het met die SABS-merk, nog minder gekoop het. Ek glo ons kyk ook nie eers meer vir die merk maar koop en hoop vir die beste aangesien enige ding skynbaar nou se dae die land binnekom. Vroeër jare het vervaardigers met trots die koper se aandag gevestig op die merk op hulle produkte. Help my reg maar ek is onder die indruk dat daar enige ding ingevoer word wat ‘voetstoots’ aan die publiek verkoop word, veral elektroniese-/elektriese ware wat merendeels dan ook verkoop word met ‘n waarskuwing dat dit… Lees meer »