Probleme by Unisa kom al jare lank

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Die probleme wat onlangs in ʼn verdoemende verslag oor die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) uitgelig is, kom al jare lank.

AfriForum Jeug sê hy het al talle gevalle hanteer van studente wat kla oor die instelling se dienslewering.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, sê om dié rede is sy nie verbaas dat die instelling dalk onder administrasie geplaas gaan word nie.

Prof. Themba Mosia, viserektor van die Universiteit van Pretoria (UP), is as onafhanklike assessor aangestel om probleme by Unisa te ondersoek.

Mosia het in ʼn verslag hieroor onder meer onthul dat Unisa derduisende rand spandeer het op opknappings aan die visekanselier se ampswoning. Verregaande bedrae geld is aan prof. Puleng LenkaBula se gordyne spandeer (R285 000) en R8 000 is betaal om iemand te leer om ʼn stofsuier te gebruik.

Hy het ook bevind dat daar ernstig fout is met Unisa se bedryfsprosesse en die hantering van studente en personeel.

“Die ondersoek het die onstabiliteit by die instelling aan die lig gebring, wat gekenmerk word deur ʼn kultuur van vrees, intimidasie en afknouery, gevalle van wanadministrasie, finansiële ongerymdhede, menslike hulpbronne wat tekortskiet, ʼn swak inligting‑ en kommunikasiestelsel, swak studentedienste, akademiese wanpraktyke, onthulling van vertroulike rekords, en twyfelagtige bestuur en raadsbesluite,” skryf Mosia in die verslag.

Studente het Mosia ook meegedeel dat hulle grootste bekommernis is dat wanneer hulle stelseluitdagings tydens eksamens ervaar, Unisa nie die nodige ondersteuningstrukture het om dit te pak nie.

Studente het onder andere gesê dat die inbelsentrum glad nie oproepe antwoord nie en e-posse onbeantwoord bly.

“Studente is tereg gefrustreerd wat dienslewering by Unisa betref,” sê hy.

“Die studente ontvang hul uitslae laat, wag maande lank vir hul voltooiingsbriewe, wag net so lank vir dissiplinêre sake om aangehoor te word, hulle kla oor hul inligting wat beskikbaar gemaak word aan eksterne partye en oor Unisa se swak reaksie hierop.

“Studente is in baie gevalle sonder hoop en desperaat.”

Mosia skryf in sy verslag van 300 bladsye dat LenkaBula nie voldoen aan die hoë standaard wat vereis word van ʼn persoon wat só ʼn pos beklee nie en aanbeveel dat Unisa onder administrasie geplaas word.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, moet nou hieroor besluit.

Van der Vyver sê AfriForum Jeug is gereed om ondersteuning aan Unisa-studente te bied sou die instelling onder administrasie geplaas word.

“Dit is ʼn gevaarlike presedent wat geskep word sou die staat by ʼn hoëronderwysinstelling ingryp, maar nietemin sal AfriForum Jeug intree indien studente se regte geskend word,” sê sy.

AfriForum Jeug eis ook dat die publiek ingelig word oor die aanspreeklikheid van die individue wat “daaraan skuldig is om ʼn eens internasionaal erkende universiteit tot dié vlak af te breek”.

“AfriForum Jeug sal die verwikkelinge fyn dophou en ondersoek instel indien studente se regte deur die proses geskend word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JvR ·

Die publiek, en veral die studente met breinselle, het al lankal gesien hier is probleme

Nici ·

Ja hul is useless. Ek wou paar jaar gelede ‘n kursus studeer waarvoor ek gekwalifiseer het. Hul het my laat weet hul ‘space’ is op.

Hennie Biebouw ·

Smaak my ek is verkeerde beroep. Waar kan mens ‘n kwalifikasie in “stofsuierkunde” bekom?

Groen Ghoen ·

Rus in vrede, UNISA. Nog ‘n leier op sy gebied sterf roemloos. Ek is trots op my UNISA graad van 1990 en eer jou nagedagtenis.

Sanet ·

Net nog ‘n bewys dat ons ANC regering ‘n totale korrupte, diewe en absoluut onbevoeg is!!!! Is daar enige staatsinstansie wat werklik enigsins bydra tot die groei van die land????

Erika ·

Genade van wanneer af moet mens ‘n kursus voltooi om met ‘n stofsuier te werk? Of is dit een of ander ingevoerde “masjien” van mars af? Nee regtig hoor, nou het ek wraggies alles onder die son denkbaar gehoor! Gordyne van R285 000 is daar pêrels, diamante, en goud ingeweef in hierdie duur gordyne, van waar is dit ingevoer? So word geld gemors, nog ‘n trotse instansie in die hande van die verkeerde mense. Ons almal moet werk vir ons eie geld, om ons eie goed te koop om ons eie plekkies leefbaar te maak. Hoekom so in weelde leef, terwyl die land krimpeer van honger en swaar kry? Binnekort lees ons van Unisa het ook ten gronde gegaan, en verval in ‘n dop soos die eens ESKOM, wat nou maar sag heengegaan het.

ES ·

Die ergste van als is dat die visekanselier waarskynlik nie ‘n klein salaris verdien nie…

Elizma ·

Die probleem klink dieselfde as by ESKOM, ons land gaan nooit weer opstaan nie.

Harley Davidson ·

Ek dink unisa moet geprivatiseer word want daar is definitief ‘n aanvraag na wat hulle probeer bied,ek persoonlik sal groot skenk sou Afriforum die taak aanvat om die instansie te koop.

Aanhouer ·

Net weereens ñ bewys van húl ” midas touch “.
Alles waaraan hulle raak verander in modder.

Agie@toeka ·

Ja!! En dan word ons altyd gebruik virrede en verskonings hulle vuil dade en immorele aksies! Jare lank pleeg hulle kwaad maar nie n woordword gerep nie!!!Botter smelt mos nie in hulle monde nie!

Hannelie ·

Ja nee hulle is pateties verby. Kwansuis grootste Universiteit, maar wat dienslewering betref….is daar niks. Leë beloftes.
Hoeveel onbeantwoorde navrae, telefonies, e-pos én die universiteit self besoek.

Die ligte is definitief daar aan…..maar niemand is tuis nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.