Probleme by vuurwapenregister ‘vererger’

‘n Kenner waarsku dat die polisie weens die swak rekordhouding en vertragings besig is om beheer oor vuurwapens te verloor. (Foto: Unsplash)

Die agterstande met die verwerking van vuurwapenlisensies by die polisie se sentrale vuurwapenregister is ʼn “reuseprobleem en dit word net erger”.

Martin Hood, ʼn kenner met omvattende ondervinding van die bedryf en regsverteenwoordiger van verskeie verenigings, veiligheidsmaatskappye en private vuurwapeneienaars, sê hy is weekliks in die hof om die polisie te dwing om aansoeke te verwerk.

“Eenvoudig gestel: dinge het basies tot stilstand gekom,” sê Hood.

Aansoek lê al meer as 1 000 dae

In een geval sê ʼn vuurwapeneienaar van Brakpan hy wag nou al meer as ʼn duisend dae (amper drie jaar) vir die polisie om sy aansoek vir ʼn nuwe vuurwapenlisensie te verwerk. Sy aansoek is in Julie 2019 ingedien, met al die nodige dokumentasie, maar sedertdien wag hy vergeefs dat dit verwerk word.

Die man, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie weens vrees dat sy aansoek dan selfs langer gaan neem om te verwerk, sê hy het al verskeie senior offisiere genader om navraag oor die aansoek te doen – maar sonder sukses.

“Ek het nie meer opsies nie. Oral sê die polisiebeamptes net hulle sal ʼn senior offisier kontak. Ek was al hoeveel keer by die polisiestasie. En jy kan ook nie net jou aansoek kanselleer nie,” sê hy.

“Ek weet regtig nie meer wat om te doen nie.”

Op die polisie se webwerf kan aansoekers die status van hul aansoeke volg deur die aansoeknommer as verwysing te gebruik. Die man sê volgens dié stelsel het hy nie eens ʼn aansoek ingedien nie. ʼn Rekord daarvan kan wel op stasievlak gekry word.

Geen rekord van die aansoek kan aanlyn gevind word nie. (Skermgreep: saps.gov.za)

Die man het meer as drie jaar gelede ʼn vuurwapen vir sportskiet teen R6 000 by ʼn handelaar gekoop. Die wapen lê steeds daar omdat hy nog nie ʼn lisensie kon bekom nie.

Hood sê hy is nie verbaas dat iemand so lank wag vir ʼn aansoek om verwerk te word nie. Aansoeke duur dikwels meer as twee jaar om verwerk te word, ten spyte van ʼn hofbevel wat bepaal dat dit binne 90 dae gedoen moet word. Die polisie het dié spertyd later self tot 120 dae verleng, maar steeds word die meeste aansoeke nie binne die voorgeskrewe tyd verwerk nie.

Hood verteenwoordig talle mense wat hulle tot die howe moet wend om die polisie te dwing om bloot hul werk te doen. In sommige sake word aansoeke ingedien waarin die hof gevra word om die polisie te dwing om ʼn besluit oor ʼn aansoek te neem. In ander gevalle, veral rakende die veiligheidsektor, moet maatskappye hulle ook noodgedwonge tot die hof wend om permitte vir hul wapens te bekom.

“Die polisie behoort hul werk sonder ʼn hofbevel te doen. Dit is ʼn mors van belastinggeld om hof toe te moet gaan.”

Die polisie het steeds nie na ‘n behoorlike elektroniese stelsel vir die verwerking van aansoeke oorgeskakel nie. (Argieffoto: Verskaf).

Die polisie se amnestieprogram vir vuurwapens het die situasie boonop kwaai vererger, sê Hood. “Die grootste probleem is dat die polisie die huidige werklading probeer verwerk, maar nie die historiese agterstand hanteer nie.

“Daar is tienduisende aansoeke wat al vir langer as twee jaar uitstaande is. Dit is werklik ʼn probleem.”

Elmo Scheffer, voorsitter van die nasionale vereniging van verantwoordelike vuurwapeneienaars (Narfo), stem saam dat die amnestietydperke die situasie vererger het.

“Die polisie kan net nie die werklas hanteer nie,” sê hy.

Covid-19-gevalle word ook dikwels as verskoning gebruik vir waarom aansoeke nie tydig verwerk word nie. Bygesê, sê Scheffer, doen sommige toegewysde vuurwapenbeamptes by polisiestasies ten spyte van haglike omstandighede waaronder hulle dikwels moet werk, steeds uitstekende werk.

“Oor die algemeen sien ons nie juis verbetering nie. Bitter min van die amnestie-aansoeke is boonop al geprosesseer en goedgekeur. Die dokumente lê net daar.

“Op die oomblik, so hartseer as wat dit is, moet jy die polisie deur die hof dwing om jou aansoek te verwerk. Ons vra net dat hulle hul werk doen, en dít sukkel regtigwaar.”

Polisie ‘verloor beheer’

ʼn Waarnemende hoof is by die sentrale vuurwapenregister aangestel nadat die vorige hoof, wat Hood as ʼn “onbevoegde stommerik” bestempel, bedank het.

Hy sê diegene in beheer het nie ʼn begrip van die wetgewing nie en beland in poste waarvoor hulle nie bevoeg is nie.

“Wat mense moet verstaan, is dat die polisie weens die swak rekordhouding en vertragings besig is om beheer oor vuurwapens te verloor.”

In sommige gevalle kom mense wat van die onwettige besit van vuurwapens aangekla word skotvry daarvan af omdat die polisie weens die swak rekordhouding nie kan bewys aan wie die wapen werklik behoort nie. (Argieffoto: SA Polisie)

Terwyl wettige vuurwapeneienaars dit hotagter kry, sê Hood in sommige gevalle kom mense wat van die onwettige besit van vuurwapens aangekla word skotvry daarvan af omdat die polisie weens die swak rekordhouding nie kan bewys aan wie die wapen werklik behoort nie.

Korrupsie vier glo hoogty, ʼn gerekenariseerde stelsel by die sentrale vuurwapenregister is ná jare steeds nie in werking gestel nie, en daar is begrotingsprobleme en swak bestuur. “Daar is onbevoegheid op elke vlak,” sê Hood.

Hy sê ʼn elektroniese stelsel sal help om die werklas te verminder, die moontlikheid van korrupsie te minimaliseer en belangrikste, dit sal die polisie beter beheer oor vuurwapens gee. “Daar word in wetgewing hiervoor voorsiening gemaak, maar die polisie het dit bloot net nog nooit gedoen nie.”

Scheffer meen daar is ʼn gebrek aan politieke wil om die situasie om te keer en skryf ook die situasie toe aan wanbestuur. Hy moedig vuurwapeneienaars aan om by toegewyde verenigings betrokke te raak sodat die bedryf se stem op dié manier versterk kan word.

  • Die polisie het Maroela Media se navraag oor die kwessie ontvang en sê hy gee aandag daaraan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Martin ·

Dit is werklik belaglik, ek self wag al vir amper 2 jaar vir 2 van my aansoeke. Het al die situasie probeer eskaleer, maar mens kom nerens, die Covid kaart word heeltyd gespeel, “sir, alot of applications are taking this long. No one was prepared for Covid”. Eks n sagteware ingenieur en is bereid om vir die SAPD n stelsel te bou, wat aan alle vereistes voldoem, binne rekord tyd, teen GEEN koste. Die probleem is dat daardie applikasies wat reeds daar le, steeds met die hand gevang sal moet word, en tussen ‘Lunch’, ‘the system is offline’ en ‘the lady is sick today’ gaan dit steeds jare vat.

FrikkievV ·

Ek wag al 2 jaar vir my wapenlisensie. Ek onthou toe ek die dag eindelik kans kry om my lisensie in te gee, en my vinger afdrukke moes gaan doen, was ek stomgeslaan dat hulle nog ink en papier gebruik. Ek spot toe met die beampte dat n skandering masjien baie beter sou werk bla bla…ens.
Sy reaksie was nee dankie dan is hy sy job kwyt!
Nou ja daar het jy dit, dis ‘n “job” niks meer nie

Casper ·

Die oplossing was eenvoudig.Die groenkaart lisensie het nie ‘n vervaldatum op nie.Hou die vuurwapen in jou besit en doen aansoek vir jou witkaartlisensie.Oom met die hoed,ek hoor nie dat jy iets opper oor nog een van jou mislukkings nie,maar natuurlik jy jaag seker nog branderplankryers op die strande rond want dit is ‘n prioriteitsmisdaad.Plaasmoorde,vuurwapens wat uit polisie besit verdwyn is “pettie”sake.

Nie Verbaas ·

“Daar is onbevoegdheid op elke vlak” Watter perfekte beskrywing vir ANC in geheel.

Grassie ·

Dit is lankal ooglopend duidelik dat die regering sy bes doen om die wetsgehoorsame landsburgers te ontwapen terwyl wapens in polisiebesit in duisendtalle hul weg vind na misdadigers. Die man met die hoed het selfs onlangs probeer verhoed dat landsburgers wapens mag besit vir selfverdediging. Dit laat my nou wonder – is die polisie se laksheid met die uitreik van lisensies dalk ‘n beplande vertragingstaktiek in hul ontwapeningsplanne of is dit bloot onbeholpe slegtigheid.

PieterJ ·

Die gesloer is met opset as poging om te keer dat publiek nog wettige wapens bekom. As ons nie onsself beskerm nie, gaan niemand nie, dis al herhaaldelik bewys die polise is tot niks goeds in staat nie.

Johan ·

Waar is mense soos Jaco Bothma nou dat hul stelsel inmekaarval, soos voorspel.

Swerwer ·

Diè probleem sal nooit opgelos kan word nie omrede die SAP nie daartoe in staat is nie. Geldgiere ANC het hier ‘n lat vir hulself gepluk. Kanselleer al hierdie nuwe veranderinge rondom lisensies en gaan terug na die ou groen lisensie kaartjie wat wettig was en volgens my insiens nog wettig is vir die wat nog nie die frustrasie ondergaan het met die nuwe lisensie aansoeke nie. In hul lewens sal die ANC nooit wapens kan bestuur nie. Hul mors net geld en tyd.

Jacobus ·

Koop jou vuurwapen by die SAPD, dan is jou ” lisensie” lewenslank, dis ingesluit by die wapen se prys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.