Proeflopies vir 5G in SA reeds aan die gang

5G-tegnologie is aansienlik vinniger as die internetsnelhede waaraan Suid-Afrikaners gewoond is.

Beplanning vir die lisensiëring van vyfde generasie- (5G) koordlose tegnologie in Suid-Afrika is aan die gang, maar geen besliste tydraamwerke is nog vasgestel nie, volgens Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en posdienste.

Cwele het die media Maandagmiddag toegespreek op die eerste dag van die Wêreldtelekom-unie (ITU) se Telekomwêreldkonferensie 2018 in die Inkosi Albert Luthuli- Internasionale Konvensiesentrum in Durban.

“Ons doen proeflopies met 5G,” het hy gesê, “maar begin reeds met die beplanning van die lisensiëring van die 5G-spektrum … sodat ons nie vertragings ervaar in ons skakeling met die private sektor nie.

“Ons werk saam met die private sektor omdat dit die spektrum is wat in die internet-milieu gebruik word en deurslaggewend vir die digitale ekonomie is. Dis wat ons daarstel.”

In sy openingstoespraak vroeër die dag het pres. Cyril Ramaphosa gesê die regering wil die toekenning van lisensies van radiofrekwensiespektrums “in die 2,6 gigahertz-, die 700 megahertz- en die 800 megahertz-band versnel om die groei van mobiele telekommunikasie aan te help”.

5G sal gebruikers aansienlik vinniger verbindingspoed bied en dit onder meer vir kleinsakeondernemings makliker maak om mededingender te word, tegnologiese innovering te verbeter en ekonomiese groei te bevorder.

Die tegnologiese bemagtiging van klein, medium- en mikro-ondernemings in Suid-Afrika en reg oor die vasteland sal ʼn deurlopende tema tydens die konferensie wees, volgens Houlin Zhao, die ITU se sekretaris-generaal, wat kleinsakeondernemings aangespoor het om hul ware tydens die konferensie aan ʼn wêreldgehoor bekend te stel.

5G sal na verwagting snelhede van tussen 10 en 20 GB/sek. bied. Tans bied 4G tot sowat 100 MB/sek., wat vyf keer vinniger as 3G is.

Hoewel die uitlegkoste hoog is, gebruik 5G minder energie en is die instandhouding daarvan goedkoper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B ·

Spektrum toekenning word al vir JARE vertraag deur die regering. (Wie se beleid hieroor, in kort, ‘n groot gemors is.)

Laat ek maar eerder nie meer byvoeg, al kan mens boeke skryf hieroor.

Sarel ·

5G sal die netwerk wees wat sal kommunikeer met die RFID chip in jou regter hand of voorkop.

B ·

Kan nie wag! Sal baie praktiese probleme oplos. (EN nee dis NIE die merk van die dier nie)

Katerina ·

Nou maar dan moet mens seker maak dat niemand n chip in jou hand of voorkop plaas nie:-)) Ernstig nou, daar is op Youtube vreeslik baie videos oor die gesondheids gevare van G5,soek gerus.

Judge Dredd ·

Die spektrum benodig word nogsteeds deur TV gebruik.
Digitale migrasie moes al in 2015 voltooi gewees het, wat spektrum dan beskikbaar sou maak.
Maar dis regering wat hul voete sleep want dan hoef niemand meer SABC lisensiegeld te betaal – geen TV sal die sein sonder dekodeerder kan opvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.