Prof. Herman van Schalkwyk se ampstermyn nie verleng nie

Prof-Herman-van-Schalkwyk

Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus se ampstermyn sal in Januarie 2016 verstryk. Foto: Argief.

Prof. Herman van Schalkwyk, adjunkhoof van die Noordwes-Universiteit en rektor van die Potchefstroom-kampus, se ampstermyn sal op 31 Januarie 2016 verstryk.

Die raad van die universiteit het tydens ʼn buitengewone raadsvergadering die naweek in Centurion besluit om die eksterne regsadvies wat aan hulle voorgelê is, te aanvaar. Dit het aangedui dat enige moontlike poging om die ampstermyn van die rektor te verleng ʼn onwettige en ongeldige optrede van die raad sou wees. Dit beteken ook dat die raad die besluit wat tydens ʼn vergadering in November 2013 geneem is, nie wetlik in werking kan stel nie.

Maroela Media het voorheen berig dat die raad toe besluit het om prosesse te begin om Van Schalkwyk se termyn as rektor van die Potchefstroom-kampus te verleng in ooreenstemming met die ses jaar lange ampstermyn van die visekanselier.

Van Schalkwyk is reeds Saterdag ná die vergadering van die raad se besluit ingelig, waarna die universiteitsgemeenskap van die besluit in kennis gestel is. Adv. Johan Kruger, voorsitter van die raad, het gesê hulle het die besluit op ʼn hoflike manier gekommunikeer. “Die raad is jammer oor die vertraging wat veroorsaak is weens die onsekerheid oor die verloop van die aangeleentheid, en is veral spyt oor die ongerief wat die vertraging ongetwyfeld vir Van Schalkwyk en sy gesin meegebring het.”

Die raad het verder ook ʼn mandaat aan sy uitvoerende komitee gegee om voort te gaan om die uitslag van die besluit met Van Schalkwyk te bespreek met die oog op die toekoms.

“Ons doen ʼn beroep op almal wat die beste belange van die NWU op die hart dra om die uitslag as die enigste wetlik verdedigbare een te aanvaar. Dit is in belang van die universiteit dat alle energie nou gefokus word op die pad vorentoe en die uitdagings wat voorlê,” het Kruger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit was maar voorspelbaar wat gebeur het met Prof van Schalkwyk met slapsakke soos Venter en ander sleepsels as raadgewers. Die do-gooders het hulle bes gedoen om hulle base tevrede te stel MAW negotiate the best peace possible maar druk die opposisie om jou sin te kry.

Gwen ·

@Bruno, daardie Venter is ’n luis van ’n mens. Hy het seker nog die meeste gedoen om die Afrikaner op die PUK (sy eie alma mater) te na te kom. Met so ’n misbaksel het die voortbestaan van Afrikaans geen vyande nodig nie.

Gwen ·

Elkeen van Theuns Eloff se aanstellings tot dusver het vrot vrugte afgewerp en Johan Kruger doen hierdie rekord tot dusver gestand. Dan Kgwadi is onder Eloff se aanbeveling aangestel as rektor van Mafikeng en later as vise-kanselier, Theo Venter was al die jare nog Eloff se regterhand en adviseer nou vir Kgwadi (alles met kwade bedoelings jeens Afrikaans en Afrikaners), Leon Wessels is deur Eloff aangestel om die verdoemende verslag op te stel, Johan Kruger is deur Eloff voorgestel as raadsvoorsitter en hy dans ook maar al te lekker na Kgwadi se pype.

Van al die Afrikaanse universiteite het die universiteitsrade nog elke keer self die besluit geneem om te verengels. By die PUK gaan dit net so gebeur as hierdie proses also voortgesit word.

Theunsie kan maar galbraak oor sy nalatenskap wat vernietig word maar in werklikheid is hy die een wat dit self gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.