Prof. Marinus Wiechers oorlede

Prof. Marinus Wiechers. Foto: Forum Nuus

Die regsgeleerde prof. Marinus Wiechers is Vrydagaand in die ouderdom van 81 oorlede.

Wiechers was ʼn voormalige rektor van Unisa en is geag as een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande grondwetkenners.

Ds. Petrus Venter, predikant van die Gereformeerde Kerk Pretoria (Paul Krugerkerk), waarvan Wiechers jare lank ‘n lidmaat was, het sy dood aan Maroela Media bevestig. Volgens Venter het Wiechers ‘n geruime tyd met hartprobleme gesukkel wat uiteindelik ook veroorsaak het dat hy probleme met sy ander organe ervaar het.

Venter sê hy onthou prof. Wiechers as “opreg en nederig”, iemand wat “altyd met begrip geluister en sy insigte gedeel” het. “Ek ken nie nog so iemand wat ons land en sy omstandighede met soveel kennis, begrip en deernis kon opweeg nie,” het hy gesê.

Voordat Wiechers by GK Pretoria ingeskakel het, was hy jare lank as lidmaat en ouderling by GK Wonderboompoort betrokke.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die Jan H. Marais-prys vir uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskapstaal aan Wiechers toegeken. Die pryse is op 30 Mei tydens ’n glansdinee op Stellenbosch oorhandig.

Prof. Wiechers, het die Akademie in sy aanbeveling geskryf, het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ’n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. “Sy seminale werk het ’n model van die Franse administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ’n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.”

Die prys van R500 000 is gelykop verdeel tussen prof. Wiechers en prof. Christo van Rensburg, taalkundige en navorsingsgenoot van die NWU. Albei wenners het ook ’n bronsbeeld ontvang deur Coert Steynberg, prof. Wiechers se voormalige skoonpa.

Wiechers was 40 jaar lank regsdosent aan Unisa, waar hy einde 1998 as rektor afgetree het. Gedurende sy akademiese loopbaan het hy aan vele ander Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer en ook in Frankryk, Duitsland, Amerika, Engeland en Spanje gestudeer en klas gegee.

Sy boeke en artikels het meesal oor die staats-, volke- en administratiefreg gehandel. Hy was medeopsteller van die Namibiese Grondwet en lid van die tegniese komitee wat die tussentydse Suid-Afrikaanse Grondwet opgestel het. Ná sy aftrede was hy voltyds kunstenaar en skilder.

Wiechers het in Junie 2013 sy eerste groot kunsuitstalling gehou en was ook ’n ywerige kunsversamelaar. In September 2013 het Bernardi Auctioneers Fine Art in Pretoria uiteenlopende voorwerpe uit sy versameling opgeveil. Onder die porselein en keramiek was William & Walter Moorcroft, ’n Lenci Elena Scavini-borsbeeld, Royal Doulton en reeksware van onder andere Royal Albert, Shelly en Arzberg.

Ook versamelfigure deur Lladro & Goebel Hummel, Italiaanse Murano-glas, Stuart-kristal en uiteenlopende Italiaanse en koloniale silwerware en speelgoed, wetenskaplike instrumente en ’n seldsame Laubscher-pop van Graaff-Reinet het onder die hamer gekom.

Onder die 160 skilderye, sketse, beeldhouwerke en grafiese kuns was werke deur Cecil Skotnes, Danie de Jager, Adriaan Boshoff, Zakkie Eloff, William Kentridge, Alexis Preller, JH Pierneef, Maud Sumner en Maggie Laubser, Erich Mayer, GW Pilkington en Adelio Zeelie.

‘n Gedenkdiens sal Saterdag in die Gereformeerde Kerk Pretoria gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Groot verlies van n kenner op sy vakgebied.
Simpatie aan die familie.

OWO ·

HY was een van SA se bestes op sy vakgebied gewees.Baie sterkte aan die familie.

humor ·

Een van die bestes en een van die jastemmers tsv al sy wysheid.

Reinette ·

My meegevoel aan sy familie. Is, Coert, Burns, Lila dink aan julle. Marinus se rustigheid – sy stem en die feit dat hy ‘n meester op sy vakgebied was, sal my altyd bybly.

Kits Sop ·

Jy kan maar verskoning vra. Jou vraag moet nie aan ‘n akademikus gaan nie, maar aan ‘n Politikus.
Dan is dit so dat BTW ‘n belasting op besteding is. Dit werk net goed solank niks vrygestel word nie. Dan kan die koers laag wees.

lewies ·

Nog ‘n man wat die kwaad probeer teehou het se stem is stil. Stadig maar seker beweeg ons na die dag of tydperk van die groot afval, waaroor die Skrif ons leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.