Prof Melville Saayman oorlede

Prof. Melville Saayman. Foto: NWU

Die NWU het gesê hy het met groot leedwese verneem van die afsterwe van prof. Melville Saayman in die ouderdom van 53.

Saayman is Donderdag in die Mediclinic Potchefstroom oorlede. Hy het reeds ʼn geruime tyd ʼn stryd teen kanker gevoer, maar die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bekend gemaak nie.

Hy het sy loopbaan aan die Noordwes-Universiteit (NWU) op 1 Januarie 1992 begin. Saayman se passie vir toerisme het hom ʼn wêreldbekende navorser op hierdie gebied gemaak. Hy het as direkteur van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) op die NWU se kampus in Potchefstroom gewerk. Hy het ʼn rol in die stigting van hierdie navorsingseenheid gespeel en was sedert 1 Januarie 2009 aan die hoof daarvan.

Hy is die toerisme-akademikus in Suid-Afrika wat die meeste publikasies die lig laat sien het, en het 245 eweknie-beoordeelde artikels op sy kerfstok. Sy prestasies in die veld sluit in dat hy die eerste navorser oor toerisme in Suid-Afrika was om deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gegradeer te word, en die eerste in die land om toerismehandboeke op die vlak van tersiêre onderwys te skryf.

Ter erkenning van sy individuele bydraes tot toerisme het die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF) hom in 2017 met die Spesiale Jaarlikse Tematoekenning vereer. As kundige op sy gebied is hy dikwels in die media oor toerismeverwante onderwerpe aangehaal, en hy het talle bydraes op verskillende platforms gelewer. Hy het ʼn waardevolle rol gespeel om die universiteit se naam te bou en is by talle geleenthede deur die universiteit vereer.

Saayman het as direkteur in verskeie direksies gedien. Dit sluit in die Suid-Afrikaanse Toerismeraad (SATOUR), die Noordwes Parke- en Toerismeraad, die Instituut vir Omgewings- en Rekreasiebestuur, die National Zoological Council, die Suid-Afrikaanse Nasionale Rekreasieraad (SANREC), die Noordwes Rekreasieraad (PROREC-NW), en die Noordwes Ontwikkelingskorporasie.

Op internasionale vlak was hy ʼn lid van die hoofbestuur van die Vereniging vir Internasionale Kundiges oor Toerisme (AIEST), en het ook in die Wêreldtoerisme-organisasie se paneel van kundiges gedien. Hy was die eerste Suid-Afrikaner om as hulpbronredakteur van die toonaangewende toerismevaktydskrif Annals of Tourism Research benoem te word.

Talle ontspannings- en toerismeboeke (20), wetenskaplike artikels (130), tegniese verslae (350) en indiensopleidingshandleidings (8) het uit sy pen verskyn. Hy het studieleiding aan 90 meestersgraad- en doktorale studente gegee. Verder het hy meer as 100 referate by internasionale konferensies gelewer. In 2011, 2012 en 2015 het hy die toekenning as die NWU se Navorser van die Jaar ontvang.

“Mellville se passie vir die toerismebedryf het hom ʼn merkwaardige man gemaak, en sy afsterwe sal beslis ʼn leemte laat – nie net in die akademiese wêreld nie, maar ook by elkeen wat hom as vriend en gewaardeerde kollega beskou het,” sê prof. Sonia Swanepoel, uitvoerende dekaan van die fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. “Ons dra ons diepe medelye aan sy familie en vriende oor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

andre ·

My innige simpatie aan Mellville se familie en vriende.

Mellville was ook ‘n ‘helder ster’ in die Atletiek gemeenskap in die tagtiger jare.

Sy bydraes op baie fronte word waardeer en sal vir baie jare onthou word.

Sanet ·

Baie sterkte,aan sy naasbestaandes ?? Jammer om te verneem van u verlies

Thomas ·

RIV. Duidelik ‘n groot akademikus, maar ek is oortuig hy was ook meer as dit as wat die artikel oordra. Sterkte aan sy familie, en ook sy kollegas.

Johan Coetzer ·

Ai Mel, jy laat n groot leemte. Jy gan beslis gemis word. Tot weersiens.

Annamarie Olivier ·

RIV. Groot boom wat geval het.
Baie sterkte aan sy gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.