Prof. TT Cloete oorlede

Prof TT Cloete Foto: www.uj.ac.za

Prof TT Cloete Foto: www.uj.ac.za

Die geliefde en bekroonde digter prof. TT Cloete is Woensdagoggend in die ouderdom van 91 oorlede.

Maroela Media verneem prof. Cloete is vanoggend om 05:00 oorlede. Klik hier vir meer inligting.

Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore.

Hy is met talle pryse bekroon waaronder die Andrew Murray-prys vir die omdigting van psalms (2002) en twee keer die Hertzog-prys vir Poësie vir sy bundels Allotroop en Idiolek (1987) en Met die aarde praat (1993).

Cloete sal veral onthou word vir sy liefde vir sy vrou, Anna, en die gedig wat hy aan haar opgedra het. ‘n Voorlesing van dié gedig volg onderaan.

Anna

In die ryping van ons jeug
het ons mekaar met die Prediker verheug.
En nou al meer en meer vel en been sonder
vleis is ons saamhoort ‘n groeiende wonder.

Baie van die rypword het ek vandag
vergeet en ons smoorverlief se smoor
is lankal oor en baie van ons saamlag,
maar ek het nog fragmente daarvan oor
in my onthou. Ons het saam in ‘n helder son
in a somer sesoun, whan softe was the sonne
in Brugge geloop. Ek onthou die carillon,
Gezelle se huis, gragte met swane
en Villon en Carcassonne
en ‘n mooi skildery van ‘n courtisane
in die Louvre, maar van alle onthou
van my en van jou onthou ek jou
helder langs my, in profiel langs my
oral uit die wit lig van my land gesny.

Daar is jy in ‘n fyn helder omtrek
dit in die helderste helder hou ek
teenaan my.

Ek herken jou voetstap in ‘n besige straat
in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.
Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.

Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.

Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas

Lees alle berigte oor TT Cloete op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.