‘Profeet’ steeds in aanhouding oor verkragting

Argieffoto

Die 32-jarige selfverklaarde profeet van Limpopo wat in hegtenis geneem is in verband met die beweerde verkragting van vier minderjarige kinders, bly nog ʼn rukkie agter tralies.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die pastoor, wat homself in Desember verlede jaar tot profeet verklaar het, het Donderdag in die Lenyenye-landdroshof buite Tzaneen verskyn op vier aanklagte van die verkragting van minderjariges.

Hy staan tereg op vyf aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding. Die saak is tot 6 September uitgestel vir sy borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die man, wie se naam nie genoem mag word totdat hy gepleit het nie aangesien hy teregstaan op aanklagte van ʼn seksuele aard, is in hegtenis geneem in verband met die beweerde verkragting van vier minderjarige kinders.

Die Tzaneen-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) in die Maake-polisiëringsgebied het hom in Augustus in hegtenis geneem.

“Die verdagte het homself in Desember 2016 tot profeet verklaar en glo die vier slagoffers, wat bodes in sy kerk in die Burgersdorp-nedersetting was, verkrag,” het Ngoepe gesê.

“Hy het na bewering die meisies, tussen 12 en 16 jaar oud, op verskillende tye na die kerk genooi om saam met hom te bid en terwyl hulle besig was met gebed, het hy hulle verkrag.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Geen borgtog hier nie!!! Nog ‘n klag teen hom: kinderarbeid! die artikel lees hul was sy bodes – as ek reg verstaan? net die 16 jarige kon werk – die res is kinderarbeid.
GEEN borgtog nie.

A. Mac ·

Dis sulke berigte wat sommige mense ‘n aversie gee in enige religieuse bedrywighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.