Die 32-jarige selfverklaarde profeet van Limpopo wat beskuldig word van die verkragting van vier minderjarige kinders, het Vrydag in die Lenyenye-landdroshof verskyn.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê profeet Confidence Monyela van Fire Prophetic Ministries in Burgersdorp, staan tereg op vier aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding.
Die saak is tot 4 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.
Maroela Media het vroeër berig die kinders was tussen 14 en 17 jaar oud. Hy is in Augustus in hegtenis geneem en vrygelaat op borgtog van R12 000 op voorwaarde dat hy een keer per week by die Ritavi-polisiestasie aanmeld en nie die Tzaneen-landdrosgebied mag verlaat nie.
“Monyela het homself in Desember 2016 tot profeet verklaar en glo die vier slagoffers, wat bodes in sy kerk in die Burgersdorp-nedersetting was, verkrag,” het Ngoepe gesê. “Hy het na bewering die meisies op verskillende tye na die kerk genooi om saam met hom te bid. Terwyl hulle besig was met gebed het hy hulle verkrag.”