Prokureur gevonnis oor diefstal uit boedel

Argieffoto

ʼn Voormalige prokureur is Woensdag in die Port Elizabethse streekhof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van diefstal. Hy is skuldig bevind daarvan dat hy R261 638 van ʼn kliënt se boedel, wat hy as eksekuteur hanteer het, gesteel het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die prokureur, Gavin du Plessis (48), se tronkstraf is opgeskort vir vyf jaar met streng voorwaardes. Hy moet ook die totale bedrag wat hy gesteel het oor 60 maande teen maandelikse paaiemente van R4 400 terugbetaal.

Du Plessis het op 13 Julie skuldig gepleit op die aanklag van diefstal.

Maroela Media het vroeër berig du Plessis was slegs geregtig op ʼn fooi van R 60 000 vir die diens wat hy in Junie 2008 as eksekuteur gelewer het. Du Plessis het egter ʼn totaal van R320 000 van die kliënt se boedelrekening na sy eie persoonlike bankrekening oorbetaal.

Toe die begunstigdes nie die boedelgeld ontvang het nie, het hulle dit aan die Valke in Port Elizabeth gerapporteer.

Du Plessis is in 2009 van die prokureursrol geskrap.

Nog sake van bedrog

Intussen het ʼn egpaar, Helga Jolene van der Merwe (43) en Ernest Richard Bean (47), Woensdag in die Middelburg-landdroshof in Mpumalanga verskyn in verband met miljoene rande se beweerde bedrog en geldwassery. Die egpaar het glo miljoene van die onderneming waar Van der Merwe gewerk het, gesteel.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die beweerde bedrog het plaasgevind toe Van der Merwe in 2017 as ʼn werknemer van Simotech, ʼn onderneming in Middelburg, gewerk het. Sy was verantwoordelik vir die rekeninge van die onderneming.

Sekgotodi sê Van der Merwe het glo vervalsde krediteure geskep en ook besonderhede van bestaande krediteure gebruik om ongemagtigde betalings van meer as R3,8 miljoen te maak. Sy het die geld vermoedelik in haar en haar man se persoonlike bankrekening inbetaal.

Die egpaar is borgtog van R50 000 elk toegestaan en sal na verwagting weer op 8 September in die hof verskyn.

In die Wes-Kaap sal ʼn 53-jarige voormalige landdros van die Thembalethu-hof na verwagting op 14 September in die George-streekhof verskyn op aanklag van bedrog. Dit volg nadat hy glo in 2013 inkomste van die departement van justisie geëis het vir werk wat hy nie vir die departement verrig het nie.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê die landdros het na bewering tussen April en Desember 2013 die departement van justisie mislei deur daagliks vir diens aan te meld, maar dan daarna na die George se munisipale hof te gaan, waar hy onregmatig ander regspligte verrig het wat hom ’n ekstra inkomste in die sak gebring het.

Hani sê die ondersoek is byna voltooi en die geldwaarde van die bedrag wat die landdros uit die staat bedrieg het, moet nog bepaal word.

In nóg ʼn bedrogsaak in die Wes-Kaap sal ʼn 42-jarige verdagte na verwagting op 5 Oktober in die handelshof in Bellville verskyn op verskeie aanklagte van bedrog, geldwassery en vervalsing ter waarde van meer as R8,4 miljoen.

Volgens Nkwalase het die verdagte as besturende direkteur van ʼn maatskappy glo tussen 2012 en April 2017 geld van die maatskappy na sy eie persoonlike bankrekening oorbetaal. Hy het na bewering toegang tot die maatskappy se betalingstelsel gehad wat hom toegelaat het om geldbetalings of oordragte te magtig.

Nkwalase sê tydens die genoemde tydperk het die verdagte na bewering ongemagtigde betalings aan onbekende begunstigdes gemaak, sonder dat enige fakture of begunstigdes enige diens aan die onderneming gelewer het. Hy het klaarblyklik die geld dan na sy eie bankrekening oorgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Kan MM ons asb van die volgende inligting voorsien? In die eerste 2 gevalle word die name van die oortredees genoem( blank neem ek aan) In die ander 2 word die name weerhou, hoekom sal dit wees, dalk polities om polities korrek te wees?

Megan Swart ·

Dagsê Sobymykoolkop
Dankie vir jou boodskap. Verdagtes wat nog nie in die hof verskyn en gepleit het nie, se name mag nie bekendgemaak word nie. Sodra die persone in die hof verskyn het, sal hul name bekendgemaak word.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Jan Nel ·

Ek wil graag versoek dat Maroela Media voortaan in berigte waarin Middelburg genoem word, sal meld of dit Middelburg Oos-Kaap of Mpumalanga is.

Megan Swart ·

Dagsê Jan Nel
Dankie vir jou kommentaar. Dis inderdaad in Mpumalanga. Die artikel is reeds gewysig om dié verwarring te voorkom.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Chris dupreez ·

Snaaks hoe vinnig sekere mense vervolg word vir bedrog en ander nie

Renier ·

dit is,het nou self gewonder hoekom dit 11 jaar moes vat.Prokereurs is soos tandartse,stel uit of maak weer n afspraak, sodat hulle mense kan droog melk.

Johanncb ·

Wanneer gaan ons sien dat korrupte staatsamptenare vervolg word?

Scalla ·

Reg het geskied, wanneer kan terugbetaling en vonnisse van korupte staatsamptenare verwag word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.