‘Prokureur’ het glo nog nie ten volle vir haar saak voorberei nie

Brenda Wardle. Via ANA

Brenda Wardle, wat haarself na bewering as ʼn prokureur voorgedoen en jare lank regsanalise aan die media verskaf het, het Maandag weer in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn en laat hoor sy is nog nie gereed om met die verhoor voort te gaan nie.

Sy hanteer haar eie verdediging.

Maroela Media het vroeër berig sy het tydens haar vorige hofverskyning kwessies oor haar gesondheid aangehaal en gesê sy het nie die regte medikasie ontvang terwyl sy in aanhouding was nie. Dié kwessie is intussen reggestel.

Sy het aangevoer sy is geregtig op ʼn enkelsel, sodat haar omgewing gunstig sou wees vir haar om vir die hofsaak voor te berei. “Ek het ʼn brief aan die staat geskryf en ek gaan dit in ʼn semi-dringende aansoek daag; ek is geregtig op ʼn enkelsel. Ek ken die minister van korrektiewe dienste persoonlik,” het Wardle gesê.

Sy het tydens die paralimpiese atleet Oscar Pistorius se moordsaak bekendheid verwerf toe die SAUK en die BBC in daardie stadium met haar onderhoude gevoer het as ʼn regsanalis. Sy het ook ʼn boek gepubliseer met die titel To Kill a Fragile Rose: The State’s Case Against Oscar Leonard Carl Pistorius.

Die 56-jarige word daarvan beskuldig dat sy voorgegee het om ʼn prokureur te wees en dat sy “dienste” aan ʼn veroordeelde moordenaar verskaf het.

Die staat voer aan Wardle het tussen April 2009 en Augustus 2013 ʼn bedrag van R538 766 ontvang om Stephanus van Aardt by te staan toe hy versoek het om vroeër op parool vrygelaat te word. Die staat voer aan Wardle het voorgegee om ʼn prokureur te wees, maar sy het versuim om ʼn aansoek vir Van Aardt se vroeë vrylating in te dien.

Van Aardt, ʼn melkboer van Somerset-Oos, is in 2007 skuldig bevind op aanklag van moord, en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding en moord op die 15-jarige Eliot Magabane.

Wardle is in Junie in Oos-Londen in hegtenis geneem nadat sy die hof vir meer as ʼn jaar lank ontduik het. Haar aansoek om borgtog is verlede maand afgekeur.

Die saak is tot 26 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Hoeveel sulke akteurs skuil nog in SA…. dokters, prokureurs, onderwysers, ingenieurs… en… en. Wetteloosheid het deurgesuur van bo tot onder… “dog eat dog” en regstellende leuens vier hoogty.

dr Sakkie van der Merwe ·

So sy ken die minister van Korrektiewe Dienste, beteken dit spesiale of voorkeur behandeling? Is sy nie maar deel van die hele vrot stelsel onder ANC beheer nie?

Useless ·

Hehehe jy moet haar punte gee vir die feit dat sy in haarself glo, soos Hlaudi, sy wil tot haarself verteenwoordig/verdedig in die hof .. glo steeds sy is ‘n regsgeleerde, shame .. nog een met vals/of geen grade/sertifikate wat haarself as geleerd wil voordoen. Dit skok my altyd om te hoor dat die hoof van die en daai en die ander organisasie na ‘n ruk uitgevang word met GEEN kwalifikasies nie, selfs TUT se REKTOR is ‘n jaar of twee gelede uitgevang dat AL sy kwalifikasies vals was. Nou vra ek ook soos ‘n kommentator hierbo, hoeveel ander BEROEPSMANNE en mense met hoë poste met groot salarisse het nie eers matriek nie, maar beweeg in die hoë kringe en doen hulleself voor as belangrike beroepsmanne/vroue, en gly so deur die lewe sonder om uitgevang te word, en as hulle uitgevang word kry hulle ‘n R13 miljoen skeidingspakket en hoef nooit weer te werk nie, want hulle sou sonder matriek nooit in hulle lewe daardie salaris/of bonus/of skeidingspakket gekry het nie.~!~ SKANDELIK~!

Genieve ·

Lekker lag ek vir die vrou wil nogals lekker voordeel he neh.Sy ken die minister van korrektiewe om wat vir haar te doen.

SjN ·

Sy beskik blykbaar oor vele talente en reken seker noudat sy die minister persoonlik ken, dit van haar n chopper pilot maak, een groot grap. Wonder hoeveel ander soortgelyke gevalle daar is?

jaco ·

iewers maak iets nie lekker sin nie: het sy geen regsopleiding nie en doen haar net voor as n regsgeleerde, of het sy wel die toepaslike regsgrade maar sy is net nie as n prokureur geregistreer nie?

Asjas ·

Goeie vraag. Jy moet seker ‘n mate van kennis he om mense vir so lank om die bos te kan lei?
Kan MM vir ons uitvind asb?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.