Prokureur in hof vasgetrek vir verkragting

Argieffoto (Foto; Maroela Media)

’n Prokureur is vandeesweek in die landdroshof in Pretoria in hegtenis geneem op aanklagte van verkragting en motordiefstal. Die beweerde misdrywe het in 2017 plaasgevind.

Kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê die prokureur (47) is Maandag in die landdroshof in hegtenis geneem kort voordat hy ’n kliënt in dieselfde hof moes verteenwoordig.

Volgens Mavimbela word die prokureur daarvan beskuldig dat hy in Junie 2017 ’n vrou (29) wat hy in Arcadia in die ooste van Pretoria ontmoet het, met haar motor na ’n veld in Mogogelo naby Hammanskraal in die noorde van Pretoria geneem het. Die prokureur het na bewering die vrou hier verkrag waarna hy in haar motor op die vlug geslaan het. Die slagoffer se motor is dieselfde dag in Ga-Rankuwa aangetref.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn, het Mavimbela gesê.

“Dit is nogal ironies dat die verdagte in hegtenis geneem is kort voordat hy namens ’n ander man in die hof moes verskyn wat van motorkaping, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, dwelms en ’n polisie-uniform beskuldig word,” het genl.maj. Thomas Mthombeni, polisiekommissaris vir die Tshwane-distrik, in die verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Gelukkig is hy gearresteer en dit beteken hy gaan onmiddelik van die hofrol geskrap word en sal nooit weer as ‘n regsgeleerde kan praktiseer nie.

Elsa ·

Die Lang arm van die gereg.
Dit moet net Baie vinniger gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.