Prokureur onder vyf verdagtes vas vir ‘diefstal’ uit pypleiding

(Argieffoto)

ʼn Prokureur is onder die vyf verdagtes wat die afgelope week in hegtenis geneem is in verband met die diefstal van olie uit ʼn pypleiding in die Vrystaat.

Daar was die afgelope ruk ʼn vlaag voorvalle waarin brandstof uit pypleidings gesteel is.

Ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, het gesê amptenare van Transnet het Vrydag ʼn daling in die drukking by ʼn klep in die Cornelia-omgewing bespeur en dadelik die polisie ontbied.

Die polisie is dadelik na die toneel en het vasgestel ruolie ter waarde van sowat R150 000 is gesteel.

Lede van die eenheid vir georganiseerde misdaad, misdaadintelligensie, die blitspatrollie en die private veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT het dieselfde dag nog inligting opgevolg wat hulle na die vermoedelik gesteelde olie op ʼn kleinhoewe in Boksburg in Gauteng gelei het, het Steyn gesê.

“Die polisie het op amper 40 000 ℓ ruolie, twee vragmotors en sleepwaens, twee voertuie, ʼn kragopwekker en verskeie ander items beslag gelê.

“ʼn Vroueprokureur is onder diegene wat in hegtenis geneem is,” het Steyn gesê.

Die vyf, Daniel Zuinavashe (33), Jabulani Ntshingila (29), Enough Stuurman (26), Jeremiah Mopeli (25) en Zama Cele (31) het reeds vlugtig in die landdroshof op Vosloorus verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en peutery met noodsaaklike infrastruktuur.

Die saak is intussen na die Vrede-landdroshof oorgeplaas waar die verdagtes na verwagting Maandag weer sal verskyn.

Die vervoervakbond Untu het net verlede week ʼn beroep op die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gedoen om te verseker verdagtes wat staatsinfrastruktuur teiken, word behoorlik aangekla en vervolg.

Untu het gevra dat die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede, wat spesifiek ingestel is om as afskrikmiddel te dien vir georganiseerde misdaadsindikate wat openbare infrastruktuur teiken, ingespan word om swaarder vonnisse vir boosdoeners te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magda ·

Bly hulle is gevang – MAAK NOU N ORDENTLIKE VOORBEELD VAN HULLE – GEEN BORG EN LANK VONNISSE.

Elmarie ·

Die een “dief”is ene ENOUGH Stuurman maar lyk my hy kry nie genoeg nou moes hy homself help…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.