Prokureur wat kliënte uit miljoene bedrieg moet opdok

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria. Foto: ANA

ʼn Prokureur van Noordwes is Woensdag in die handelsmisdaadhof in Pretoria tot tien jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy kliënte uit ongeveer R4 miljoen bedrieg het.

Volgens kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, is Isak Snyman (46) in 2010 in Brits as prokureur aangestel om eiendomme namens kliënte aan te koop en te registreer.

“Ongeveer R4 miljoen is deur kliënte in sy trustrekening inbetaal. In plaas daarvan om die eiendomme te koop, het die beskuldigde die fondse misbruik,” het Rikhotso gesê.

Die saak is aan die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad gerapporteer en deeglike ondersoeke is uitgevoer, wat daartoe gelei het dat Snyman in die hof verskyn het.

Snyman het skuld beken en is tot tien jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy die geld in maandelikse paaiemente van R50 000 terugbetaal totdat die balans ten volle betaal is.

Vroeër vandeesmaand is ʼn Kaapse prokureur in die handelsmisdaadhof in Bellville tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ook sy kliënte uit miljoene rande bedrieg het.

Dié 53-jarige prokureur van BA Bauman Attorneys in Bellville, Brian Albertus Bauman, het vals eise namens slagoffers by die Padongelukkefonds (POF) ingedien.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die hof het gelas dat ondersoek ingestel moet word om te bepaal of daar op Bauman se bates beslag gelê kan word.

“Bauman was verplig om ʼn beleggings- en trustrekening vir sy praktyk te open en het erken dat hy meer as R24,4 miljoen namens sy kliënte van die POF ontvang het, maar slegs R6,7 miljoen uitbetaal het,” sê Ntabazalila.

Hy het die res van die geld in sy sak gesteek wat hy glo gebruik het om sy dobbelverslawing mee te finansier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
MrMagic

Sulke skelms. Wie kan mens nog vertrou in hierdie tye.

koos10

Ek staan verstom hoe hierdie ouens, wat prokureurs is, dink hulle gaan wegkom met sulke dade.
En in die proses foeter (ek wou onder woord gebruik) hulle die naam van die hele regsprofesie in die dam.

Yvonne

Mammon is n nare baas

Louise

Wat van boedel BEDROG wat so gepleeg word, hoekom kan die gereg nie praat vir mense wat oorlede is en nie meer vir hulle self kan praat nie.
Soveel SKELM goed wat mense wegkom en daar word NIKS aan hulle gedoen nie… BELAGLIK MAN
BELAGLIK laat sulke goed toegelaat word

Louise

Laat weerlose OU mense deur sulke skelms moet deurloop, ONKUNDIGE mense wat die slagoffers moet wees, mense wat nie reg kostes kan bekostig wat alles verloor, sulke goed maak my BOOOOS. 10jaar tronkstraf hy moet sommer lewens lank KRY.