Promotor misbruik glo Afrikaanse sangers vir slenter

'n Plakkaat wat van die geleentheid gemaak is.

‘n Plakkaat wat van die geleentheid gemaak is.

ʼn Geleentheid wat behoeftige mense sou help, het in ʼn fiasko ontaard nadat ʼn promotor glo bekende sangers se name gebruik het om barmhartige Samaritane ʼn rat voor die oë te draai.

Vrywilligers van die Kupcakes, ʼn onafhanklike tak van Solidariteit Helpende Hand in Lephalale (Ellisras), wou Saterdag ʼn geleentheid by die Junction-sentrum aanbied waartydens nie-bederfbare kos vir behoeftige mense in die gemeenskap ingesamel word, nadat erge vloede vroeër vanjaar die gebied getref het.

Die projek se organiseerder het op sosiale media navraag gedoen of iemand haar kan help om bekendes te kry om by die geleentheid op te tree, toe die promotor, ʼn “verteenwoordiger” van die organisasie, haar gekontak het. Die persoon het gesê hy sal, teen ʼn fooi, reël dat onder andere Adam Tas en Kevin Leo Saterdag by die geleentheid optree.

Adam Tas het egter Maandag ‘n foto van die bemarkingsplakkaat op sy Facebook-blad gepubliseer en gesê hy en Kevin Leo is nie bewus van die optrede nie.

Ná Adam se Facebook-plasing, het Kupcakes onraad vermoed en nie die fooi aan die promotor betaal nie. Die tak het met die “bestuurder” van die promotor se onderneming kontak gemaak en hy het gesê hy sal terugvoer aan hulle gee. Die “bestuurder” was sedertdien nog nie weer beskikbaar nie.

“Dit is vir ons baie jammer dat daar mense is wat die goedhartigheid van Helpende Hand se vrywilligers sal misbruik om op so skelm manier geld te maak,” het Christine Breet, Helpende Hand se adjunk uitvoerende hoof van ontwikkeling, aan Maroela Media gesê. “Helpende Hand se takke werk landswyd baie hard om armoede in gemeenskappe te verlig en te verbreek en ons veroordeel ten sterkste die optrede van die sogenaamde promotor. Ons sal die saak beslis verder ondersoek.”

Die geleentheid is intussen gekanselleer.

Caren Visagie, Adam Tas se vrou en bestuurder, het aan Maroela Media gesê hulle het geen kwade gevoelens jeens Helpende Hand of die vrywilligers nie. “Ons wou net die mense waarsku dat iets nie pluis is nie, en omdat Adam reeds vir ʼn ander geleentheid bespreek is,” het sy gesê. “Ons wou nie hê aanhangers moes van ver af ry met die verwagting om kunstenaars te sien optree en dan teleurgesteld moet weggaan nie.”

Visagie sê dit gebeur gereeld dat sekere ‘promotors’ ʼn kans vat om geld te maak uit mense, wat nadelig is vir die sangers en organiseerders. “Ons raai mense aan wat geleenthede wil bywoon om  die kunstenaar se webwerf of Facebook-blad te besoek en só te bevestig of die kunstenaar wel vir die betrokke geleentheid bespreek is.”

Maroela weerhou tans die maatskappy se identiteit totdat hulle vir kommentaar bereik kan word. Pogings om hulle op te spoor was tot dusver onsuksesvol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griet ·

Die naam op die plakaat is “Kupcakes”.
FB Page: “Helpende Hand Kupcake Caregivers”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.