Protea-kolwer uit span oor haar gewig

Argieffoto van Lizelle Lee. (Foto: Cricinfo)

Die voormalige Protea-kolwer Lizelle Lee sê haar gewig was ʼn belangrike faktor in haar besluit om uit internasionale krieket te tree.

Lee, rekordhouer van die meeste T20-lopies (1 896) deur ’n Protea-vrouekrieketspeler, het verlede maand haar uittrede aangekondig.

Dít nadat sy ʼn gewigstoets gedruip het en deur Krieket Suid-Afrika (KSA) huis toe gestuur is, sê die 30-jarige kolwer in die BBC World Service se podsending Stumped.

Lee is verlede maand onbevoeg vir die toetse teen Engeland verklaar nadat sy nie aan die fiksheidstandaarde voldoen het nie.

Lee is gevolglik deur KSA gevra om terug te keer na Suid-Afrika vir verdere toetse. Die moontlikheid dat die nasionale krieketbeheerliggaam in haar pad kon staan om aan ligas regoor die wêreld deel te neem, het ook in daardie stadium soos ’n swaard oor Lee se kop gehang.

“Ek het vir hulle gesê ek is uit die span gelaat as gevolg van hoe ek lyk en hoeveel ek weeg. Hulle het gesê, ‘nee, ons laat jou uit die span omdat jy die fiksheidstoets gedruip het’.

“Maar as jy mooi daaraan dink, hét ek die fiksheidstoets deurgekom,” vertel Lee op die podsending. “Ek het die hardloop deurgekom, maar ek was nie die aanvaarde gewig nie. So julle laat my uit die span oor my gewig. As ʼn vrou breek dit my. Dit is seker een van die moeilikste dinge om te hoor dat jy nie vir ʼn span kan speel nie omdat jy te veel weeg.

“Ek weet ek lyk nie soos ʼn atleet nie, maar dit beteken nie dat ek nie my werk kan doen nie. Ek het verlede jaar so gelyk en ek het ʼn briljante jaar gehad.”

Lee is in 2021 deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as die vrouekrieketspeler van die jaar aangewys.

Argieffoto van Lizelle Lee. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Hoewel die kolwer maar met ’n stillerige vertoning by die onlangse Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland tevrede moes wees, het haar kolf ongetwyfeld die praatwerk in 2021 gedoen.

Sy het 632 lopies teen ʼn gemiddeld van 90,28 geslaan, terwyl haar onoorwonne 132 lopies teen Indië die hoogste telling van haar eendagkrieketloopbaan is.

“Ek voel nie goed oor myself nie,” erken Lee in die podsending. “Ek kyk nie eers meer na myself in die spieël nie, want ek hou nie van hoe ek lyk nie. Maar dit kom al lank saam, want elke keer as ek in die (Suid-Afrikaanse) kamp is, gaan dit altyd oor my gewig. Dit breek ʼn mens emosioneel af.

“Ek het snags by die huis in my bed gesit en huil en gedink, wat gaan ek aan my gewig doen? Ek sukkel al so lank hiermee.

“Ek het my agent gebel en hy het gevra wat ek wil doen.

“Hulle [KSA] het gesê hulle is regtig hartseer om my te sien gaan, maar as daar geen ander manier is nie, respekteer hulle my besluit. Hulle het nie eens gevra wat hulle kan doen om my te laat bly nie.”

Lee se uittrede uit internasionale krieket stel haar in staat om steeds in The Hundred vir Manchester Originals in Engeland te speel. Sy het ook by die Hobart Hurricanes in die Women’s Big Bash League in Australië ʼn kontrak geteken.

“KSA kan ook nie ʼn ‘sertifikaat van geen beswaar’ vir The Hundred-toernooi terughou nie, want finansieel is dit baie geld [as ek daar speel] en ons het dit nodig, veral met ʼn jong gesin, so ek het gesê ek gaan aftree.”

Sy erken dat sy deur haar loopbaan gesukkel het om haar gewig te beheer, maar sê sy het nie die nodige ondersteuning van KSA ontvang nie.

“Hulle het my nooit gevra wat ek nodig het om my te help om gewig te verloor nie. Dis iets wat ek nog altyd op my eie gedoen het.”

“Ek doen my sessies in die gimnasium. Ek doen alles opleidingsgewys wat ek nodig het om te doen. Ek weet nie, ek sukkel met my gewig. Dit is al so vir ek weet nie hoeveel jaar nie.

“Emosioneel is dit net so uitputtend, en ek kon dit nie meer doen nie.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Krieket bestaan uit meer as net kolfwerk. Veldwerk bv is ‘n belangrike deel van die spel waar al 11 spelers hul kant moet bring. Toetse vereis langer konsentrasie en langer kolfbeurte, anders as T20 bv. Dalk moet sy ‘n Keto leefstyl begin volg?

Johan ·

Arivinda da Silva was een van die bestes en het ook met gewig gesukkel.. Eks jammer maar as jy die hardloop toetse maak en dit hou nie enige gevaar in nie. Kan ek nie sien hoekom sy nie kan speel nie. Ek dink dis uiters swak van KSA.

Hennie Biebouw ·

Ek dink nie met “hardloop toets” word hier na die “bleep test” verwys nie…

Frank ·

Die gewig kwessie word voorgehou. Maar ek dink omdat sy lanklaas lopies gekry het as ‘n nommer 3. Wanneer laas het sy meer as 20 gekry?

Herman ·

Ek verstaan nie. Wat het gewig met krieket te doen? Waarom is daar kriteria mbt gewig? As ‘n speler kan krieket speel en die beste is, moet daardie speler in die span wees. As sy gewig hom benadeel, sal hy nie die span haal nie. Ons wil mos die beste span in die veld stoot. Geld die gewigskriteria dan ook vir beamptes, afrigters, skeidsregters en KSA se bestuur? Wat van gewigskriteria in die weermag en polisie waar dit lewensbelangrik is? Verbeel ek my of ruik ek rot? DISKRIMINASIE!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis waar die span gedeelte inkom. Een maak op vir ‘n ander se leemte. Die vroumens kan kolf.

BARNEY ·

Jammer hierdie geld nie vir ons Polisie beamptes nie.
Ek moet vir haar in die bres tree, gewigs verlies is nie vir almal so eenvoudig soos n goeie dieet nie, sy het haar self dissipliene bewys met oefen en gym werk, mense wat suksesvol gewig verloor doen dit met die ondersteuning van n groep, soos bv whatsapp en telegram groepe. Ons moet eerder ondersteun as kritiseer

Hannelie ·

Ek stem saam met jou. Vandag kan jy maklik vir die Polisie weghardloop.

Chris dupreez ·

Jy is nog jonk en het ongelooflike talent, kry jou kop reg en verloor die gewig, net jyself kan dit doen. Dit gaan in elk geval vir jouself en jou gesin beter wees. Dit is nie maklik nie, jy moet dit vir jouself doen.

E ·

Dalk moet sy ‘n goeie mediese evaluering deurgaan, dalk is haar sjildklier onderaktief od dalk diabetes?

PoepieDik ·

As hulle die reel by Tennis gehad het was ons ook n klomp laaang middae gespaar

Cecile ·

Sy het die fiksheid toets geslaag, sy een van die beste speelers wat ‘n verskil maak in die span, maar oor haar gewig word sy gepenaliseer op? Dit sit regtig net weer ‘n manier om meisies te se hoe jy moet lyk en hoeveel jy moet weeg om erens te kom in die lewe, dit is regtig net hartseer dan vra hulle hoekom ons sport is waar dit is vandag

VaalDonkie ·

Sy hou die rekord vir die meeste T20 lopies. Ek dink sy’s oukei nes sy is.

piet ·

As dit haar performance benadeel, dan ja, maar indien nie wat maak dit saak hoe sy lyk?

twaalfboor ·

Okay, sy was dalk goed met die kolf, maar wat was haar werk verrigting in die veld. En wat is die kriteria vir “fiks”.

Casper ·

Piet net ter inligting,dit het haar performance beïnvloed.Sy was regtig nie haar plek in die span werd nie want sy was te dik

Naomi ·

Beste besluit gaan speel oor kant , was nooit ñ probleem hoekom nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.