Proteas bal vuis teen rassisme

Proteas (26 Desember 2020) (Foto: OfficialCSA/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse krieketspan het Saterdag voor die aanvang van hul toets teen Sri Lanka by SuperSport Park in Centurion met hul vuiste om hoog gestaan, ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging.

Die Proteas het in ʼn verklaring gesê die spelers het al op verskeie geleenthede hul ondersteuning vir die veldtog teen rasse-ongeregtigheid verklaar en wou “hul eie pad stap”.

Die spelers het kritiek op die hals gehaal toe hulle nie die knie gebuig het voor ʼn onlangse reeks teen Engeland nie, soos wat ander spanne gedoen het ná die afsterwe van George Floyd in die VSA vroeër vanjaar.

Volgens die verklaring is die besluit, om met gebalde vuis te staan, geneem “deur ʼn proses van diep demokrasie” om toepaslik te wees in ʼn Suid-Afrikaanse konteks.

“Die gebalde vuis omhoog is ʼn kragtige teken in ons eie geskiedenis, soos uitgebeeld in die ikoniese foto’s van Nelson en Winnie Mandela toe Mandela in 1990 uit die tronk vrygelaat is. In dié konteks was dit ʼn kragtige teken van triomf, ʼn erkenning van die struggle teen apartheid, en ʼn toewyding om die stryd voort te sit vir geregtigheid, gelykheid en vryheid, terwyl die godsdienstige en kulturele verantwoordelikhede van elke spanlid ook geëer word.”

“Ons erken die geskiedkundige en politieke verbintenis van die gebalde vuis as ʼn teken van voortgesette solidariteit in die stryd vir rassegeregtigheid en antirassisme.”

Klik hier om die volledige verklaring te lees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.