Proteas, Engelse verf Wanderers pienk

(AP Photo/Mahesh Kumar A.)

Sondag se pienkdag-eendagwedstryd tussen die krieketspanne van Suid-Afrika en Engeland het soms baie aan Vrydagaand se tenniswedstryd tussen Roger Federer en Rafael Nadal in die Kaapstadse stadion herinner.

Wie het omgegee wie het gewen?

Dus was daar Sondag op die oog af nie te veel bek-af toeskouers op die Wanderers nie toe Engeland die derde en laaste eendagkragmeting in die reeks van drie met net twee paaltjies teen Suid-Afrika gewen het nie.

Hulle was daar vir die partytjiegevoel, hulle was daar om hulself te geniet, om deel te wees van ʼn nuwe krieketgeslag.

Tog het hulle waarde vir geld gekry toe Engeland in hul jaagtog na die wenteiken ʼn paar vinnige paaltjies verloor het en die uitslag spannend en in die weegskaal was.

Ai, as Suid-Afrika maar net 30 meer lopies in sy kolfbeurt kon aanteken.

Vir die rekordboeke het die reeks met 1 – 1 gelykop geëindig nadat Vrydag se tweede wedstryd in Durban uitgereën het en Suid-Afrika die eerste een op Nuweland met sewe paaltjies beklink het.

In Suid-Afrika se kolfbeurt van 256/7 was Quinton de Kock (69 van 81 balle met vyf viere en twee sesse) en David Miller (69* van 53 balle met vier viere en vier sesse) die ankers, maar die lopies was ʼn rapsie te min, veral teen die huidige Wêreldbekerkampioen.

Dan het die Engelse keurders ook raakgevat deur twee draaiers, Adil Rashid (3/51) en Moeen Ali (1/42), asook Joe Root (0/42) met groot vrug in te span.

Saam het hulle 27 boulbeurte afgestuur, net 135 lopies afgestaan en vier paaltjies ingeoes.

Boonop het hulle die skroewe aangedraai toe De Kock en later ook Miller die langsteel moes inlê.

In Engeland se kolfbeurt van 257/8 in 43,2 boulbeurte het Johnny Bairstow (43 van net 36 balle) soos ʼn sneltrein afgesit en die wind uit die ietwat onervare boulaanval van Lungi Ngidi (3/63), Beuran Hendricks (3/59), Lutho Sipamla (1/42) en Tabraiz Shamsi (1/58) gehaal.

Toe Root boonop 49 lopies van net 52 balle bydra, was die grondslag gelê vir Joe Denly (66) om die laaste slag te slaan.

Maar toe slaan Ngidi en Hendricks toe en teen die einde was daar ʼn hele paar bekommerde gesigte in die Engelse kleedkamer toe vier vinnige paaltjies gekantel het.

Die vermoë van die Engelse om tot laag af te kolf, behoort ʼn les vir enige krieketspan te wees.

Vir Suid-Afrika is daar beslis lig in die tonnel.  Hulle het ʼn nuutgevonde vegtersgees en met Mark Boucher, Jacques Kallis en Charl Langeveldt daar, gaan dit onder die direkteur van krieket, Graeme Smith, reeds baie beter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.