Proteas kán stem dik maak in 2027, mits hulle slaggate vermy

Die Proteas het ’n naelbyt-halfeindstryd met drie paaltjies teen Australië verloor. (Foto: Arun Sankar/AFP)

As dit suiwer van talent afhang, die halfeindronde-verloorsindroom in Wêreldbekertoernooie afgeskud kan word, die regte kaptein gekies word en daar nie onnodige inmengery in spankeuses is nie, kan die Suid-Afrikaanse krieketspan in 2027 die Wêreldbeker-toernooi wen.

Wat in die Proteas se guns tel, is dat die toernooi in Suid-Afrika (asook in Zimbabwe en Namibië) gespeel word, dat jongelinge soos Dewald Brevis (20 jaar oud), Tristan Stubbs (23), Raynard van Tonder (25), Grant Roelofson (23), Ryan Rickelton (27) en ander belowende jongelinge soos George van Heerden, Matthew Boast, Jade Smith en Michael Copeland na vore kan tree en verder ontwikkel.

Die Proteas, met Kagiso Rababa, Anrich Nortjé, Gerald Coetzee, Marco Jansen en Lungi Ngidi, kan een van die gedugste boulaanvalle hê as almal beseringsvry bly.

As die ouderdomme van die huidige eendagspan in ag geneem word, lyk die kanse effe skraal dat Rassie van der Dussen, David Miller en Reeza Hendricks (almal 34) en Temba Bavuma en Keshav Maharaj (albei 33) die toernooi in 2027 sal haal.

Heinrich Klaassen is reeds 32 en dit kan die deur vir verskeie jongelinge laat oopswaai om deur te breek.

Boonop moet Quinton de Kock ook vervang word, wat besluit het om hom voortaan net op T20-reekse toe te spits.

Aiden Markram en Rabada (albei is 28), Ngidi (27), Jansen en Coetzee (albei 23) kan nog lank vir Suid-Afrika speel as hulle reg bestuur word en beseringsvry bly.

Daar sal ook ʼn fyn balans gehandhaaf moet word om nie te veel klem te lê op T20-reekse nie, wat die brood en botter in krieket is.

Die Proteas kon sedert 1992, toe Suid-Afrika die eerste keer ná hertoelating in WB-toernooie kon speel, in nege toernooie nog nooit verder as die halfeindronde vorder nie.

Suid-Afrika se beste vertonings was allig in 1999 en ook vanjaar. In 1999 is die Proteas in die halfeindronde op Edgebaston in Birmingham deur Australië uitgeskakel nadat die wedstryd gelykop geëindig het. Dit het gevolg nadat Allan Donald uitgehardloop is.

Die Aussies het tot die eindstryd deurgedring (en gewen) omdat hulle hoër op die Superses-puntetabel geëindig vanweë ʼn beter lopietempo.

Die Proteas is vanjaar weer deur die Aussies in die halfeindronde uitgeskakel wat voortgegaan het deur Indië in die eindstryd te klop.

Ander hartseer oomblikke was in 2015 toe Nieu-Seeland die Proteas in die halfeindronde geklop het en in 2003 in Suid-Afrika toe die span uitgeskakel is nadat die wedstryd teen Sri Lanka ook gelykop geëindig het, maar die skaal in Sri Lanka se guns geswaai het nadat die Duckworth-Lewis-formule toegepas is.

Die Proteas was stewig op pad na ʼn oorwinning en het net 40 lopies van 30 balle af benodig toe dit begin reën het.

Dis hoogtyd dat die krieketspan in die voetspore van die Springbokke begin volg, of droom ons te groot?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die bestuur van Krieket SA wil glo net vier wit spelers in die toekoms toelaat. Dan moet dit ook maar verloor-verloor aanvaar as die standaard. Om darem te wil oorvat op grond van teateale twak is ‘n goeie plan om nie seën te verdien nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan is daar openlike diskriminasie by die komende O/19 toernooi. Dis siek. Krieket behoort uit internasionale kompetisies geskop te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.