Proteas se Keegan internasionaal vereer

Keegan Petersen. Foto: Twitter via KSA.

Dit is nie net plaaslike krieketliefhebbers wat Keegan Petersen se vertoning teen Indië waardeer het nie, die Internasionale Krieketraad (IKR) het ook kennis van die Protea se flitsende kolf geneem.

Die internasionale krieketbeheerliggaam het vandag aangekondig dat die 28-jarige Suid-Afrikaner die speler van die maand-toekenning vir Januarie ontvang het.

Petersen het 276 lopies teen ’n gemiddeld van 46 in sy drie toetse teen die besoekende Indiërs gemoker en hy het vriend en vyand met sy houe deur die dekveld beïndruk.

Hy het veral in die beslissende toets op Nuweland sy stempel afgedruk toe hy twee vyftigtalle in die kragmeting geslaan het en hy is welverdiend as die speler van die reeks aangewys.

“Daar was vooraf ’n groot bohaai oor die reeks opgeskop en die kalmte waarmee hy gekolf het, was pleinweg ongelooflik,” het JP Duminy (voormalige Protea) gesê.

AB de Villiers het ook vroeër die kolwer se lof besing.

“Ek is beïndruk met sy kalm houding, vaardigheid en tegniek teen een van die beste boulaanvalle ter wêreld,” het die oudkaptein getwiet.

’n Positiewe Covid-19‑toets het egter beteken dat Petersen nie saam met die Proteas na Nieu-Seeland vir hul komende reeks kon reis nie.

Sarel Erwee sal waarskynlik sy plek in die span volstaan.

Tog het die virus hom duidelik nie ondergekry nie en hy het onlangs 45 vinnige lopies vir die Dolphins in ’n plaaslike T20-wedstryd aangeteken.

  • Dewald Brevis het ook onder die benoemdes getel.

Die jong Suid-Afrikaner het vanjaar Shikhar Dawan se rekord vir die meeste lopies by ’n o.19-Wêreldbekertoernooi verbeter, terwl hy ook deur die Mumbai Indians vir die komende Indiese Premierliga opgeraap is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Knap gedaan !!!