Proteas se Wêreldbeker-groep bekend

Temba Bavuma. (Foto: Hansie Linde.)

Die Proteas se Wêreldbeker-groep vir die internasionale eendagkrieketskouspel in Indië is vandag by Grey Kollege bekendgemaak; ʼn tradisieryke skool wat met oudspelers soos Hansie Cronjé, Kepler Wessels en Nicky Bojé spog.

Temba Bavuma sal ʼn groep van 15 spelers aanvoer wat uit al die bekende gesigte bestaan.

Quinton de Kock sal waarskynlik die kolfbeurt saam met Bavuma begin, terwyl Rassie van der Dussen, Reeza Hendricks en Aiden Markram die ander topordekolwers is.

Heinrich Klaasen en David Miller sal later vir die vuurwerkvertoning moet sorg om die Protea-kolfbeurt op ʼn hoë noot te probeer afsluit.

Hoewel die Proteas nie meer oor die veelsydige sterre van ouds – dink byvoorbeeld aan Shaun Pollock, Jacques Kallis en Lance Klusener – beskik nie, sal Keshav Maharaj en Marco Jansen probeer om hul stempel met kolf en bal af te druk.

Kagiso Rabada en die blitsige Anrich Nortjé sal die Suid-Afrikaanse boulaanval lei, terwyl die opwindende Gerald Coetzee ook onder die uitgelese groep spelers tel.

Daar is egter nie plek vir Dewald Brevis of Tristan Stubbs nie.

Suid-Afrika het reeds vier keer (in 1992, 1999, 2007 en 2015) vir die halfeindstryd gekwalifiseer, maar hulle kon nog nooit in ʼn eindstryd speel nie.

Die span is ook tydens die vorige toernooi in Engeland reeds in die groepfase uitgeboender.

Proteas se Wêreldbeker-groep: Temba Bavuma (kaptein), Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Sisanda Magala, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi en Rassie van der Dussen.

Bepalings:

7 Oktober: Suid-Afrika teen Sri Lanka

12 Oktober: Suid-Afrika teen Australië

17 Oktober: Suid-Afrika teen Nederland

21 Oktober: Suid-Afrika teen Engeland

24 Oktober: Suid-Afrika teen Bangladesj

27 Oktober: Suid-Afrika teen Pakistan

1 November: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

10 November: Suid-Afrika teen Afghanistan

15 November: Uitspeelwedstryde begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Anel ·

Hoe lank gaan hulle nog vasklou aan die onbevoegde kaptein? Ek is seker daar is ander baie beter kolwers wat sy plek kan vul. Net my mening!!!

George ·

Hy is ons beste kolwer, in die groep die enigste een met n average bo 50. So eks nie helemal seker waarna jy verwys as jy se onbevoeg nie.

piet ·

Die kaptein is een van ons beste kolwers in ODI’s (dis die formaat waarin daar meegeding gaan word in die wereldbeker). Hy was ‘n outomatiese keuse op meriete en gegrond op sy statistieke in die formaat van die spel. Jou mening is ongelukkig ongegrond dalk bietjie meer navorsing doen voor jy kommentaar lewer.

JohanR ·

Temba Bavuma se eerste vier kolfbeurte by die wereldbeker – 80, 102, 60 en 96,

piet ·

Ek het nou die dag weer na Donald se uithardloop gekyk in die semi teen die Aussies. Die MANNE het heeltemal verbouereerd geraak. Die Aussies lag nou nog oor die storie.

Manie ·

Markram toon af en toe dat hy weer aan die regkom is, Ngidi boul al die laaste jaar swak.

George ·

meer af as toe. In 6 jaar het hy maar 1 x 100 tal en n avg van 33.

piet ·

Ek sal ook nie vir Ngidi kies nie net soos ek nie vir Markram en hierdie nuwe bouler Coetzee sou kies nie. Die Aussies het vir Ngidi en hierdie Coetzee uit die veld uitgeslaan in die T20’s.

Wit Leeu ·

Ag asseblief ! Wat ‘n groot grap…………………………………

SwartBees ·

Juis omrede hulle kniel vir die anti-chris dat hul so swak doen.

Plaas spaar KSA die geld en ons die vernedering deur hulle by die huis te hou.

George ·

teenoor daai gelowiges wat hulle siele so saam Hansie verkoop het, of die bal tamperers saam faf?

George ·

Volgens rekords, is die vd Dussen met n 60 avg, dan Bavuma met 52 en dan kry jy de kock op 44 en Klaasen op 40.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.