Proteas verwelk in Kaapstad

(Foto: Twitter)

19 lopies. Dis al wat tussen die Proteas se vrouespan en ʼn droomeinde aan die T20-wêreldbekertoernooi gestaan het. Die topspan, Australië, is weer die wêreldkampioen.

Die Proteas het dalk nie die trofee gewen nie, maar hulle het weer gewys sport speel ʼn groot rol om Suid-Afrikaners saam te snoer. Dit is ook ʼn reusehupstoot vir vrouesport in die land.

Die Aussies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Ash Gardner is op nommer drie ingestuur om skade aan te rig en dis presies wat sy gedoen het. Sy het twee agtereenvolgende sesse van Nadine de Klerk se boulwerk af gemoker om momentum aan hulle kolfbeurt te gee. Gardner is aangewys as Speler van die Toernooi.

Chloe Tryon, een van die helde van die toernooi, het in haar eerste boulbeurt van Gardner ontslae geraak nadat kaptein Suné Luus haar vir 29 lopies van 21 balle af uitgevang het.

Beth Mooney het die ankerrol gespeel vir die besoekers en sy het flink lopies begin aanteken ná Gardner se vertrek. Haar beurt van 74 onoorwonne lopies van 53 balle af was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne. Sy is ook die eerste speler wat in twee T20-eindstryde vyftigtalle kon aanteken. Mooney is ook aangewys as Speler van die Wedstryd.

Sy het van die eerste twee balle van die laaste boulbeurt af ʼn ses en ʼn vier gemoker voordat Shabnim Ismail ingegryp het deur met agtereenvolgende balle van Ellyse Perry en Georgia Wareham ontslae te raak. Sy spog met boulsyfers van 2/26 in vier boulbeurte.

Australië het 156/6 aangeteken en dit het gelyk soos ʼn teiken wat die Proteas suksesvol kon jaag.

Laura Wolvaardt en Tazmin Brits het die beurt vir die Proteas geopen, maar hulle kon net nie aan die gang kom nie. Die Australiese boulers het hulle vasgepen en die eerste twee viere wat aangeteken is, was bloot weens slordige veldwerk eerder as aanvallende houe.

Ná vier boulbeurte kon die tuisspan net 13 lopies op die telbord wys. Marizanne Kapp het aanvallend begin en haar rekening geopen met ʼn pragtige vier. Sy het ongelukkig haar paaltjie weggegee en die Proteas was op 46/2 ná 9 beurte. Die uithardloop van Luus vir net twee lopies het die Suid-Afrikaners geen gunste bewys nie.

By die halfpadmerk was die vereiste lopietempo meer as tien lopies per beurt en dit het nie gelyk of Luus se span naby aan die wenteiken gaan kom nie.

Wolvaardt en Tryon het ander planne gehad en hulle het vinniger lopies begin aanteken. Dit het sierlike sesse van Wolvaardt ingesluit.

Toe Wolvaardt op 61 lopies van 48 balle af been-voor-paaltjie betrap is deur Megan Schutt was die skrif aan die muur. En toe Tryon vir 25 lopies van 23 balle af deur Jess Jonassen geboul is, was die einde in sig. Op daardie stadium moes die Suid-Afrikaners 36 lopies van 14 balle af aanteken om te wen.

Dit was net té veel, té ver.

Die Proteas eindig op 137/6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus ·

Verwelk? A-nee-a! Die span het pragtig gespeel! Baie geluk aan elkeen van hulle!

George ·

Ek stem, hulle probeer nou die dames se sukses onder die mans se failures indruk. Well done dames!

Koos 100 ·

As die eerste SA span (mans en vroue krieket) om ‘n eindstryd te haal, kom verwelk nie eers op in my kop nie.

Samuel ·

Die Proteas se vrouespan het steeds rede om trots te wees en so-ook SA. Welgedaan.

George ·

Well Done Dames, julle het SA trots gemaak, nou kan die mannetjies by julle leer.

Witbaard ·

Dis jammer maar welgedaan. Hulle was dalk net n bietjie te versigtig.

Prikkie ·

“Verwelk” is volgens my mening totaal onvanpas.

Die dames het hulle beste gedoen, en vir my ‘n trotse SAner, is dit goed genoeg.

Mooi gespeel dames!!

piet ·

Baie goed gedoen. Hulle kan net beter raak en meer dames gaan definitief die sport speel. Aussie watch out!

JohanR ·

Dankie wonderlike Protea span vir die vermaak. Daai twee sesse en vier in drie balle wat die Aussies gemoker het het nie gehulp, maar die Protea se begin was ook te stadig. Moet ten minste 20 loopies op die bord he na 3 boul beurte he. Wolfaardt was ‘n ster. Drie agter volgende 50’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.