Protes ontwrig dienslewering in Lichtenburg

Tydens ’n vorige protesaksie het betogers van die munisipale geboue aan die brand gesteek. Foto: ANA

ʼn Groep mense wat werkgeleenthede eis, het die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg in Noordwes tot stilstand gebring.

Pius Batsile, woordvoerder van die plaaslike owerheid, sê mense wat aandring op werk by die munisipaliteit het amptenare gedwing om die munisipale kantoor te ontruim en ontwrig munisipale dienste sedert Maandag.

Hy sê die munisipaliteit probeer veiligheid in sy geboue opskerp sodat werknemers veilig sal wees en hulle ongestoord met hul werk kan voortgaan.

Die lewering van munisipale dienste sal na verwagting Woensdag of Donderdag na normaal terugkeer. “Die bestuur van die Ditsobotla-munisipaliteit vra verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak word deur die onderbreking van dienste,” sê Batsile, “en werk onverpoos om seker te maak sulke voorvalle kan voortaan voorkom word.”

In Mei 2017 het ʼn groep inwoners van Boikhutso, ook bekend as Phola, die burgemeester, Daniel Buthelezi, as gyselaar gehou en ʼn gedeelte van die munisipale geboue afgebrand.

Hy is nie beseer nie, maar 32 mense is in hegtenis geneem op aanklagte wat gewissel het van ontvoering tot brandstigting en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.