Protesoptog oor US-taalbeleid gehou

Danie van Wyk.

’n Protesoptog word vir Vrydag in Stellenbosch beplan om ’n griefskrif aan die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) te oorhandig oor sy beplande hersiene taalbeleid.

Die protesaksie is deur die DAK Netwerk, ’n groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, gereël. Deelnemers sal by die Braak bymekaarkom waarna daar na die hoofingang van die universiteit beweeg sal word.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, het gesê hy gaan ’n lys van stellings simbolies aan die deur van die hoofingang vasspyker soos Martin Luther dit in Wittenberg gedoen het. “Ons voel ons 14 stellings moet op simboliese wyse aangebring word want dit simboliseer die verandering wat ons eis by die US.”

Na afloop hiervan sal terug na die Braak beweeg word waar toesprake en boodskappe gelewer sal word. Die DAK Netwerk sal sy eise tydens die protesaksie bekend maak.

Die griefskrif sou aanvanklik aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, oorhandig word, maar hy is in selfisolasie nadat hy positief getoets het vir Covid-19. Die griefskrif sal nou aan ander bestuurslede oorhandig word.

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het intussen ook sy ernstige kommer uitgespreek oor die afgelope paar weke se gebeure by die US oor die gebruik van Afrikaans op sy kampus en ook die konseptaalbeleid wat pas bekend gemaak is. “Hierdie stand van sake het ontaard in ʼn onbehaaglike debakel wat wyd in die Afrikaanse taalgemeenskap veroordeel word,” het prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, gesê.

Die Akademie se kommer oor die taalkwessie by die US spruit uit die waarneming dat een van die land se inheemse tale, en daarby die jongste taal uit Afrikabodem wat die afgelope eeu tot volle wasdom as ’n wetenskapstaal ontwikkel het, se waarde klaarblyklik deur die US geringgeskat word.

“Die Akademie betreur die toenemend verbeeldinglose tegnokratiese omgang van Stellenbosch met die werklikheid van veeltaligheid en hoe dit sedert 2014 manifesteer in hierdie universiteit se taalbeplanning, -beleid en -implementering. En dít desondanks die taalgebruiksprofiel van die universiteit se primêre voedingsgebied waar Afrikaans die mees gebruikte taal is.”

Die Akademie het ʼn beroep op die US gedoen om sy jongste konseptaalbeleid grondig te hersien deur ʼn taalwetenskaplik verantwoorde en raadplegende taalbeplanningsproses van stapel te stuur. “Stellenbosch se voedingsgemeenskap verdien dit,” het Beukes gesê.

Belangstellendes het tot 12 April tyd om kommentaar op die eerste konsep van die hersiene US-taalbeleid te lewer. Volgens die US kan kommentaar kan slegs via ’n digitale platform ingedien word. ʼn Skakel op die taalwebblad verleen toegang tot dié indieningsplatform.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

pdbpta ·

Gee Afrikaans en Afrikaners asseblief die eer en respek wat ons verdien en waarvoor ons gewerk het.

Gert ·

Daar is nie vir ons respek in Suid-Afrika nie ons is die onderdrukkers onthou. Die Afrikaner het die kaders gekeer om self iets tot stand te bring

KB ·

Kom ons neem die “eer en respek” weg van hierdie tipe instellings…hulle is ons nie werd nie.

deHAS ·

Koekie wat die reël opgemaak het moes van ‘beter af’ geweet het.

Pieter ·

Die US sal nie een sent weer by my kry nie nie. Hulle kan by die ANC gaan bak hand staan.

Jakes ·

Wonder wanneer gaan die universiteit afrikaanse studente verplig om ook die knie te buig?

Piet Snot ·

Wimpie die Rektor gebruik Covid as ‘n verskoning om sy verengelsingsbeleid verder deur te voer.

KB ·

Geen respek vir hierdie “rektor” nie…hier’s nou ‘n mooi voorbeeld van ‘n 21ste eeuse “hanskakie”.

Blikkies ·

My borgskap aan US het ek lankal gestaak. Klaar met hulle.

Sonia ·

Wim de Villiers is nie werd om Afrikaanssprekend genoem te word nie – dis tyd dat hy sy naam verEngels. Whim d’Village of so iets

Andries ·

Wim “I only speak english” de villiee sal net eish jojo antwoord op die versoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.